Besope motoris vas nadat sy in padteken oor dronkbestuur vasploeg

Die motoris het skuldig gepleit nadat sy onder die invloed van drank in die elektroniese bord ingeploeg het. (Foto: Palm Springs-polisie/Facebook)

ʼn Vermeende dronkbestuurder is agter tralies nadat sy teen ʼn padteken – waar die polisie waarsku dat hulle toeslaan op motoriste wat onder die invloed van drank bestuur – vasgery het.

Clarissa Hernandez het ʼn halfliter tequila gedrink voor sy volgens die polisie in Augustus in die elektroniese bord in Palm Springs vasgeploeg het.

Beamptes wat die padblokkade net ʼn paar treë verder beman het, het aangestorm terwyl Hernandez uit die verfrommelde Land Rover gesteier het.

“Haar oë was bloedbelope, rooi en waterig en haar spraak aangetas. Sy het deurlopend vorentoe en agtertoe gewieg,” het ʼn beampte van die Palm Springs-polisie nou in ʼn verklaring gesê.

“Sy was kwaad, stryerig en vyandig,” het die beampte in sy verslag geskryf en bygevoeg dat Hernandez tydens ondervraging aan die polisie gesê het sy het haar laaste tequila net tien minute voor die botsing gedrink.

Die 27-jarige Hernandez, van Texas, het Woensdag in die hof skuldig gepleit aan die mindere klagte van verset teen inhegtenisneming en bestuur onder die invloed van alkohol.

Sy is drie jaar lange korrektiewe toesig opgelê, het die kantoor van die Riverside-staatsaanklaer gesê.

Die polisie in Kalifornië stel gereeld padblokkades op in ʼn poging om motoriste sonder rybewyse, diegene sonder versekering en bestuurders onder die invloed van alkohol aan te keer.

Ingevolge die staat se wetgewing moet hulle egter motoriste waarsku dat só ʼn padblokkade opgestel is. Hulle doen dit soms deur elektroniese padtekens te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.