Biden benoem sy kandidaat vir prokureur-generaal

Regter Merrick Garland (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Die verkose Amerikaanse president Joe Biden het Merrick Garland, ʼn regter wat vyf jaar gelede ʼn setel in die hooggeregshof deur die Republikeine geweier is, Donderdag as sy benoeming vir die VSA se prokureur-generaal bevestig.

Garland (68) is ʼn gematigde liberale regter in die federale appèlhof in Washington en het geen affiliasie met enige politieke party nie.

Garland is in 2016 deur pres. Barack Obama vir ’n setel in die hooggeregshof benoem waarna die Republikeine in die senaat dié aanstelling geweier het. Dit het pres. Donald Trump in staat gestel om die vakante setel in 2017 met ʼn konserwatiewe regter te vul.

Garland het in 2013 as hoofregter in die appèlhof in Washington gedien en het vroeër jare as prokureur in die private sektor en as federale aanklaer gewerk.

Hy is in 1993 as adjunk-assistent-prokureur-generaal in die Amerikaanse departement van justisie aangestel waartydens hy belangrike nasionale veiligheidsake hanteer het waaronder die destydse bomaanvalle in Oklahoma City en by die Olimpiese Spele in Atlanta.

Garland se benoeming as prokureur-generaal sal waarskynlik maklik deur die senaat, wat nou onder die beheer van die Demokrate is, slaag. Hy sal waarskynlik ook Republikeinse steun kry.

Garland sal as prokureur-generaal moet besluit of Trump van dwarsboming van die gereg aangekla moet word in verband met Robert Mueller se spesiale ondersoek na Russiese inmenging in Amerika se 2016-presidentsverkiesing.

Garland sal ook moet besluit of hy Trump van belastingbedrog en ander beweerde wandade in sy saketransaksies gaan aankla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.