Bitcoin laagste in 18 maande

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ozan KOSE / AFP)

Die kriptogeldeenheid Bitcoin het oor die naweek tot onder $20 000 (R319 000) – die laagste vlak sedert 13 Desember 2020 – gedaal.

Bitcoin het Saterdag tot ’n kommerwekkende $18 740 gedaal voordat dit Sondag weer met 16% tot bo $20 000 gestyg het.

Die wêreld se gewildste kriptobate het nou meer as 70% van sy waarde verloor sedert dit ’n hoogtepunt van $68 991 op 10 November 2021 bereik het.

Die waarde van ander groot kriptogeldeenhede het ook Saterdag ’n daling beleef. Ethereum het dié dag byna 10% van sy waarde verloor.

Wêreldaandelemarkte het verlede week gedaal te midde van vrese dat inflasiebestrydende rentekoersverhogings deur die Amerikaanse Federale Reserweraad en ander sentrale banke ’n resessie kan veroorsaak.

Kriptogeldeenhede is egter die hardste getref.

Die daling in die waarde van Bitcoin word boonop versnel deur die onlangse opskorting van onttrekkings deur twee kriptoleningsfirmas.

Die Celsius Network het sowat ’n week gelede aangekondig dat dit “alle onttrekkings, omruiling en oordragte tussen rekeninge” gaan staak weens “uiterste marktoestande”.

Babel Finance het intussen ook ’n tydelike staking aangekondig, aangesien hulle sukkel om kriptokliënte uit te betaal weens die daling in dié geldeenheid se waarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Kan nog nie lekker vat kry aan die storie nie. Seker maar te onnosel.

JohanR ·

Dit het al baie laag geval en toe weer die hoogte in geskiet. Ek sal maar wag vir die hoogte weer, en dan in cash.

Miena ·

Is die ration 1 BC teen R319000-00? Gaan dit my daai bedrag kos om n enkele BC te bekom? Ag nee magtig – ek het nie eers R319-00 nie wat te se van daai onbenullige bedrag.

Miena ·

Ek verstaan nie die kripto besigheid nie – en ek werk in die Risiko bedryf let wel!!! Ek is seker maar net nie geinterresseerd genoeg nie of ek het nog nie genoeg (fisiese) bewyse gesien van die besigheid (wat vir my welvaart kan skep) nie. Ek meen ek wil sien wat is die Kripto – is dit n fisiese geld-eenheid waarin ek kan inkoop en bele? Wanneer ek my kripto verkoop wil ek die fisiese geld weer terug sien in my bankrekening. Verstaan ek verkeerd of is ek nou so bietjie deurmekaar soos Tannie Levienja? Haai oeee!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.