Bloedbad by Thaise kindersorgsentrum

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Voormalige polisiebeampte van Thailand het Donderdag, gewapen met vuurwapens en ’n mes, by ’n kindersorgsentrum in die noordooste van dié land ingestorm en minstens 30 mense, onder wie tientalle kleuters, doodgeskiet.

Minstens 23 kleuters tussen twee en drie jaar oud is tydens die voorval doodgeskiet. Die aanvaller het daarna glo die vuurwapen op homself en sy gesin gerig.

Die polisie sê die aanvaller was met ’n haelgeweer, ’n pistool en ’n mes gewapen toe hy omstreeks 12:30 plaaslike tyd op die kindersorgsentrum in die Nong Bua Lam Phu-provinsie losgebrand het. Die aanvaller het ná die massaskietery in ’n voertuig van die toneel gevlug voordat hy homself en sy gesin om die lewe gebring het.

Die presiese besonderhede rakende die skietery is nie in die stadium bekend nie.

Kol. Jakkapat Vijitritya het wel sedertdien die gewapende man geïdentifiseer as Panya Khamrab, ’n luitenant-kolonel wat glo verlede jaar weens dwelmgebruik uit die polisiemag ontslaan is.

Dié massamoord volg minder as ’n maand nadat ’n dienende weermagoffisier twee kollegas by ’n militêre opleidingsbasis in die hoofstad Bangkok doodgeskiet het.

Talle landsburgers besit vuurwapens in Thailand. Massaskietvoorvalle gebeur egter selde in dié land.

Volgens die Bangkok Post is minstens twee ander gevalle van skietmoorde deur dienende soldate egter die afgelope twee jaar aangemeld. ’n Thaise soldaat het 29 mense in 2020 doodgeskiet en vele gewond voordat hy self deur kommando’s doodgeskiet is.

Dié skietery was destyds verbind met ’n geskil oor geld tussen die soldaat en ’n senior offisier.

Die motief vir die jongste voorval is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KatjieDeKat ·

Dis afgryslik!!! Ag nee hoe de joos haak jou kop so erg uit????

sopbeen ·

Dis almal nog babas. Hulle kan nog nie eens ordentlik spring, hardloop en flug nie. ‘n Healgeweer is ook so grusaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.