Brande bedreig Australiese begrotingsoorskot

Argieffoto ter illustrasie van die Australiese brande.(Foto: Darren Pateman, AP)

Die Australiese tesourie het gewaarsku dat die verwoestende brande wat reeds maande woed, die land se beplande begrotingsoorskot in gedrang kan bring.

Josh Frydenberg het voorheen onderneem om ʼn begrotingsurplus van 5 miljard Australiese dollar in die 2019/2020-boekjaar te lewer, die eerste begrotingsoorskot vir die land sedert 2007/2008. Frydenberg gee egter nou toe dat dié oorskot heelwat kleiner mag wees weens die “onsekere” ekonomiese impak wat die brande op Australië mag hê.

“Die begroting klop weer vir die eerste keer in 11 jaar. Die Australiese bevolking weet dat wanneer jy verantwoordelik is vir ekonomiese bestuurders, jy die finansiële aanpasbaarheid het om op krisisse en ekonomiese skokke te reageer wanneer dit ook al mag voorkom. Hierdie is een [só ʼn krisis],” het Frydenberg gesê.

Die plaaslike regering het aangekondig dat 500 miljoen Australiese dollar hierdie boekjaar bestee sal word ter verligting van die impak van die brande.

Volgens Frydenberg plaas dié bedrag nie die begrotingsoorskot in gedrang nie, maar die verreikende gevolge van die brande op die land se toerisme en eiendomsmark doen dit wel.

Maroela Media het vroeër berig die impak van die brande op Australië se toerismebedryf sal na raming sowat 4,5 miljard Australiese dollar teen die einde van vanjaar beloop, met talle toeriste wat reeds besoeke aan dié land gekanselleer het.

Die Business Council of Australia (BCA) het gesê indien die regering nie die beloofde oorskot haal nie, hy verskoon mag word weens die buitengewone omstandighede.

“Laat ek dit baie duidelik stel dat ons wel glo dat die oorskotbegroting belangrik is, omdat ons glo dat dit die land die geleentheid gee om op soortgelyke omstandighede te reageer,” het Tim Reed, president van die BCA, aan plaaslike media gesê.

“En hoewel ons graag die begroting in oorskot wil sien, wil ons nie hê dit moet ten koste van plaaslike gemeenskappe wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NouToeNou ·

Begrotingsoorskot!? Ek het nie eens geweet ñ land kan so iets hê nie!

Ons kaders is maar gewoont aan bakhand staan en leen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.