Britney hou partytjie ná skei-nuus

Britney Spears en haar man, Sam Asghari, in 2019. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Dit lyk asof die popster Britney Spears (40) vinnig te werk gaan om haar onlangse liefdesteleurstelling te verwerk.

Kort ná die nuus van die Amerikaanse sangeres en Sam Asghari, danser en akteur, se egskeiding verlede week wêreldwyd nuusopskrifte gehaal het, het Spears ʼn video op Instagram geplaas waar sy saam met ʼn groep mans partytjie hou.

In die video lig die groep mans, almal kaal bolyf, die popster op. Sy dra ʼn groen, noupassende rokkie en ʼn sonbril.

Britney Spears en vyf mans het saam partytjie gehou. (Foto: Skermgreep/Instagram)

“Ek het my gunsteling-ouens oorgenooi en ons het heelaand gespeel,” skryf Spears by die video.

Spears, wat twee keer vantevore getroud was en die ma van twee tienerseuns is, en die 29-jarige Asghari voer volgens berigte “onversoenbare verskille” as die rede vir die egskeiding aan.

Daar word ook gegis dat Asghari die sangeres van liedjies soos “Stronger”, “Toxic” en “Oops! I Did It Again” daarvan beskuldig het dat sy hom verneuk het. Spears ontken glo dié bewerings.

Asghari het ʼn verklaring op sy Instagram-profiel uitgereik oor die nuus dat sy huwelik van slegs 14 maande op die rotse is. Hy en Spears het in 2016 op die stel van haar musiekvideo vir die liedjie “Slumber Party” ontmoet.

Spears en Asghari is op 9 Junie verlede jaar op haar luukse Thousand Oaks-landgoed in Los Angeles getroud.

“Na ses jaar se liefde en toewyding het ek en my vrou besluit om ons reis saam te beëindig. Ons sal aan die liefde en respek wat ons vir mekaar het vashou en mekaar altyd die beste toewens,” skryf hy.

Spears was egter effe minder diplomaties met haar eie plasing oor die aangeleentheid. “Ses jaar is ʼn lang tyd om saam met iemand te wees, so ek is ʼn bietjie geskok. Ek is nie hier om te verduidelik hoekom nie, want dit is eerlikwaar niemand se besigheid nie,” skryf sy op Instagram.

“Ek kon nie meer die pyn hanteer nie. Ek het gemaak asof ek sterk is vir heeltemal te lank en my Instagram lyk dalk perfek, maar dit is ver van die werklikheid af, en ek dink ons almal weet dit.”

Spears se aanhangers gons al ʼn geruime tyd oor die popster se “vreemde” optrede op sosiale media, met talle video’s, wat gereeld geplaas word, waarin sy slegs skraps geklee dans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Koos 100 ·

Eish, geld kan nie styl, geluk of maniere koop nie. Hoe langer sy aangaan hoe meer dink ek haar pa het haar geken en wou haar teen haarself beskerm. Nou verstaan ek ook hoekom haar seuns by haar eksman bly!

Juanita ·

Negatiewe publisiteit bring meer geld in as positiewe publisiteit. Wat Britney nie als sal doen nie.

Althes ·

Is waar. Kyk nou maar vir Julius Malema – hy gebruik sy berugte sogenaamde liedjie om relevant en bekend te wees.

Patch ·

Geen ooghare vir die vrou nie. Geen respek vir die huwelik nie. Dit moet iets van jou sê as 3 mans nie met jou kan klaar kom nie.
Haar pa het van beter geweet, miskien moes sy na hom geluister het…

A.S ·

B.S jy is pateties!!! Ek begin verstaan hoekom jou pa doen wat hy gedoen het. Jy is ‘n skande van ‘n dogter & Ma!!

Pieterbusa ·

Ai tog. Jaloesie is ‘n lelike ding. Sy geniet haar lewe en haar sukses. Gun haar dit

bolletjie blom ·

En die huwelik is haar speelgrond. Sy sal nooit verander nie. As sy eers oud en vol plooie is gaan niemand haar wil hê nie.

Mnr De Beer ·

Het die liedjie “Oops I did it again” by die partytjie gespeel? Ek vra namens n vriend.

Niklaas ·

Dit lol as ‘n ma , en glad nie ‘n behoeftige ma wat erg sukkel , haar kinders verloor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.