Britte belaster (al weer) Noorweë se geskenkte Kersboom

Vanjaar se geskenkte Kersboom in Trafalgarplein. (Foto: X)

Die stad Oslo skenk sedert 1947 elke jaar ʼn Kersboom uit sy sneeuwoude aan Londen as ’n gebaar van dankbaarheid vir Brittanje se hulp aan dié land tydens die Tweede Wêreldoorlog.

En elke jaar trek talle Britte neus op vir dié (ja, taamlike yl) boom.

“Waar is die ander helfte?” wou sommige Britte vanjaar weet nadat ’n 70 jaar oue Kersboom Maandag in Trafalgarplein staangemaak is.

“Dis net die helfte van die boom,” het ander beaam. “Is dit ek, of lyk dit nogal dood?” wou een Britse sosialemediagebruiker weet.

“Anemies” en pleinweg “lelik” is net sommige van die byvoeglike naamwoorde (wat geskik is vir publikasie) wat oor die jare gebruik is om die geskenkte Noorse Kersbome te kritiseer.

Baie onthou dat die geskenkte Kersboom van 2021 veral die wind van voor gekry het.

“Het ons oorlog verklaar teen Noorweë?” het een sosialemediagebruiker daardie jaar geskerts. “Een van daardie 5G-maste wat as ʼn boom vermom is,” het ʼn ander een gemor, terwyl ʼn derde die boom beskryf het as iets wat lyk soos ʼn “halfgeplukte hoender”.

Dit het daardie jaar so erg geraak dat Oslo dit ernstig oorweeg het om ʼn tweede, weliger boom te stuur.

Die Noorweërs gee toe dat die geskenkte Kersboom – wat sy eie rekening op X het – soms van sy prag op pad Londen toe verloor. Die boom word immers van ʼn vragmotor tot op ʼn boot geslinger en dan weer op ʼn vragmotor gelaai terwyl dit sy pad van ʼn droë en koue Nordiese klimaat na die sout seelug en dan na die vogtige Engelse winter vind.

En ongelukkig is daar maar altyd ’n paar dennenaalde en takke wat nie die paal haal nie.

Tog word elke boom wat oor die Noordsee gestuur word sorgvuldig uitgesoek, bewaar, verpak, natgemaak en op die kortste roete moontlik verskeep. Ekstra takke word boonop saamgestuur om die boom aan te vul sou dit met sy aankoms in Londen nodig wees.

“Die bome wat ons stuur, is oor die algemeen perfek waar hulle groei, maar baie dinge kan tydens die reis gebeur,” sê produsent Knut Johansson, verantwoordelik vir die bestuur van die Oslo-munisipaliteit se woude.

“Ons het eenkeer klagtes gekry dat die boom soos ’n komkommer lyk,” onthou hy. “Dit is asof dit so ʼn bietjie van ’n sport geword het om die boom te kritiseer.”

Brittanje se ambassadeur in Oslo, Jan Thompson, is allermins beïndruk met die kwansuise seisoensport.

“Die punt is, dit is nie soos ʼn Disney-boom nie,” sê Thompson. “Dit gaan nie 100% perfek wees nie, maar dit is wat so spesiaal daaraan is. Dit is ʼn regte boom wat in ʼn Noorse woud gegroei het.”

Die gebaar van die geskenkte Kersboom kom nadat koning Haakon van Noorweë ná die Nazi-inval in 1940 skuiling in Londen gevind het. Oslo gee sedertdien jaarliks sy dank te kenne vir die gasvryheid wat hy ontvang het deur sedert 1947 elke jaar ʼn Kersboom te skenk.

“Dit is ʼn teken van ons dankbaarheid vir die hulp wat ons tydens die Tweede Wêreldoorlog ontvang het,” vertel Anne Lindboe, burgemeester van Oslo. “Maar dit het ook soveel meer beteken. Ons leef in hierdie regtig, regtig donker tye en ek dink deesdae simboliseer die Kersboom vrede, saamstaan en vriendskap tussen stede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bulkalf ·

Nou plant dan julle eie “dam” boom my genade,hoe moeilik kan dit wees?

Nettie ·

En hoe lank gaan die Britte nog Kersfees vier? Soos dit vir my klink, gaan dit binnekort ook maar net Ramadan wees! So waardeer maar eerder die Kersboom solank dit nog toegelaat word.

Amelia ·

Mag ek die Britte herinner aan ‘n mooi Engelse gesegde? “Never look a gift horse in the mouth”.

trotsNAMSA ·

Noorweë kan liewer vir SA dankie sê. SA (Unie) het die 1ste WO en 2de WO in die plek van die “rooi baadjies” geveg. Die Britte kom altyd te laat op die oorlogveld of onttrek gou gou. Buitendien het ons mooier bome :)

koos ·

Onthou net, liewe leser, dat Brittanje basies in ‘n Moslem- en Hindu-staat verander het. Hulle ondersteun glad nie Kersfees nie, vandaar die gewraakte uitlatings.

Luckykat ·

Lyk my die Britte verdien om vertrap te word met al die immigrante.

Pieter J ·

Dit is die gebaar wat saak maak. Lyk vir my die Britse publiek verstaan dit nie. Ek stem saam met wat Nettie sê. As die spul engelse nie wakker word nie sal hulle nie meer lank kersfees kan vier nie. Die Islamiste sal dit nie toelaat nie.

Jannie ·

Stuur vir hul ‘n plastiekboom. Dalk sal die suurgatte minder kerm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.