Broadway-legende sterf

Stephen Sondheim (Foto: Kevin Winter, AFP)

Stephen Sondheim, die man wat wyd erken word vir die omwenteling wat hy teweeggebring het in Amerikaanse musiekteater, is Vrydag in die ouderdom van 91 oorlede. Die vorige dag het hy nog die Amerikaanse Dansseggingsdag saam met vriende in sy huis in Connecticut deurgebring.

As komponis was Sondheim verantwoordelik vir musiekspele soos Sweeney Todd: The Demon Barber of Fleet Street, Sunday in the Park with George en Into the Woods. Daarby het hy die lirieke geskryf vir West Side Story.

“Ons het die Shakespeare van musiekteater verloor,” het Marianne Elliott, regisseur van die musiekspel Company, gesê.

Uit baie oorde word Sondheim se dood beskryf as die einde van ʼn era.

Sondheim is op 22 Maart 1930 in New York gebore. Hy was van jongs af by musiekteater betrokke. Albei sy ouers het in die modebedryf gewerk.

Hy het op sewejarige ouderdom begin klavier speel en sy ouers was vriende met die Amerikaanse liriekskrywer Oscar Hammerstein II.

Sondheim se eerste professionele skryfwerk was vir die televisiekomedie Topper wat in die 1950’s uitgesaai is. Hy het ook van 1968 tot 1969 blokkiesraaisels vir New York Magazine opgestel, wat bygedra het tot sy skryfstyl vir die teater.

Sy deurbraak op Broadway het gekom met sy lirieke vir Leonard Bernstein se West Side Story in 1957, vinnig gevolg deur die lirieke vir Gypsy twee jaar later.

West Side Story is twee keer tot rolprent verwerk, eers in 1961 met Rita Moreno in die hoofrol. Die tweede weergawe word vroeg in Desember uitgereik. Ansel Elgort en die nuweling Rachel Zegler is daarin te sien.

In sy loopbaan van meer as vyf dekades het Sondheim agt Grammy-toekennings, agt Tony-toekennings gewen – insluitend die spesiale lewenslange prestasie in teater, een Oscar en ʼn Pulitzer-prys. Hy is benoem vir nog vele Grammys en Tonys, asook twee Golden Globes.

Company en Assassins, twee van sy musiekteaterstukke, is hierdie tans weer op Broadway te sien.

In 2015 het die destydse Amerikaanse president Barack Obama aan Sondheim die presidentsmedalje van vryheid, die land se hoogste burgerlike eerbewys, vir sy werk oorhandig.

Sondheim het in 2017 met sy lewensmaat Jeffrey Romley getrou, wat hom oorleef.

“Dank die Here dat Sondheim geleef het om 91 jaar oud te word, sodat hy die tyd gehad het om sulke wonderlike musiek en lirieke te skryf,” het die bekende sangeres Barbra Streisand op Twitter geskryf.

“Dankie vir alles, mnr. Sondheim,” het die Broadway-akteur Aaron Tveit geskryf, wat onlangs die Tony vir beste akteur gewen het. “Ons is so gelukkig om te hê wat jy die wêreld gegee het.”

Die Broadway-aktrise en sangeres Lea Salonga het Sondheim ook bedank vir sy groot bydrae tot musiekteater. “Ons sal vir altyd jou liedjies sing. O, my hart is seer,” het sy op Twitter geskryf.

“Daar is geen woorde nie. Hy was onvergelykbaar,” het die Britse Stephen Sondheim Society, wat gewy is aan die bevordering en studie van sy werk, op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.