Bruce Willis roep loopbaan vaarwel

Bruce Willis op 11 Oktober 2019 by die première van ‘Motherless Brooklyn’ in New York. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Bruce Willis se familie het aangekondig dat hy sy akteursloopbaan vaarwel roep nadat hy met afasie gediagnoseer is. Die toestand tas ʼn persoon se vermoë om te praat en skryf aan.

Willis (67) se familie, ook sy vrou, Emma Heming Willis, en eksvrou, Demi Moore, het in ʼn gesamentlike verklaring sy toestand op Instagram bekend gemaak.

Afasie “het ʼn invloed op sy kognitiewe vermoë”, lui die verklaring. Afasie word gewoonlik aangebring deur skade aan die linkerkant van die brein, byvoorbeeld deur ʼn beroerte.

Willis is bekend vir sy rol as John McClane in die Die Hard-flieks. Hy was ook in flieks soos The Sixth Sense, Armageddon, Lucky Number Slevin en Moonrise Kingdom te sien.

“Na vele oorwegings gaan Bruce wegstap van die loopbaan wat soveel vir hom beteken het,” het die familie geskryf.

“Dit is ʼn uiters uitdagende tyd vir ons familie en ons waardeer julle volgehoue liefde, deernis en ondersteuning.”

Willis het vyf dogters, drie saam met Moore en twee saam met Heming Willis. Hy het sy loopbaan in die vroeë 1980’s begin, maar het eers byna ʼn dekade later ʼn huishoudelike naam geraak nadat hy teenoor Cybil Shepherd in die televisiereeks Moonlighting gespeel het. Hy het in 1988 in die eerste Die Hard-fliek gespeel.

Hy is vir vyf Golden Globe-toekennings benoem en het een vir Moonlighting ingeoes. Hy is ook vir drie Emmy-toekennings benoem en het twee gewen.

Talle akteurs en ander sterre het hulle meelewing met Willis op sosiale media uitgespreek.

Bykomende bron: BBC

Bruce Willis en sy vrou, Emma Heming Willis, op 11 Oktober 2019 by die première van ‘Motherless Brooklyn’ in New York. (Foto: Angela Weiss/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Hy was ‘n uitstaande akteur en het ‘n goeie lewe gelei.

Miena ·

nou wie gaan nou vir ons se “jippie kay jay…”? ek vra maar net!

Kobus ·

Wil maar net se nerens in die artiekel praat hulle van dat hy die jab gekry het en as gevolg van die jab siek geword het nie.Weet nie hoe bring jy die jab in die gesprek in nie.Klink eerder of hy dalk ‘n beroerte gekry het.Baie jammer vir hom en baie sterkte vir hom verder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.