Byna 60 000 Covid-19-sterftes in een maand in China

Gesondheidsorgwerkers in China (Februarie 2020) (Foto: AP Photo/Arek Rataj)

China het Saterdag byna 60 000 Covid-19-verwante sterftes in net meer as ʼn maand aangemeld. Dit is die eerste groot getal wat owerhede vrygestel het sedert Beijing vroeg in Desember virusbeperkings opgehef het.

Die regering word wyd daarvan beskuldig dat hy nie akkurate syfers aanmeld oor Covid-19 nie. Slegs ʼn paar dosyn sterftes is amptelik in Desember aangemeld voor Saterdag se aankondiging, ondanks bewyse van krematoriums en hospitale wat oorval word.

ʼn Beampte van die Nasionale Gesondheidskommissie het egter Saterdag gesê China het tussen 8 Desember en 12 Januarie altesaam 59 938 Covid-19-verwante sterftes aangeteken.

Dié getal verwys slegs na sterftes by hospitale. Die totaal is dus waarskynlik hoër.

Die data sluit 5 503 sterftes in wat veroorsaak is deur asemhalingsprobleme direk verwant aan die virus en 54 435 sterftes wat deur onderliggende toestande veroorsaak is in kombinasie met Covid-19, het Jiao Yahui, hoof van die kommissie se buro van mediese administrasie, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Beijing het verlede maand sy metodologie aangepas om Covid-sterftes te kategoriseer en gesê hy sal slegs diegene tel wat spesifiek sterf weens asemhalingsprobleme wat deur die virus veroorsaak is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die besluit veroordeel en gesê die definisie is “te nou”.

WGO-hoof Tedros Adhanom Ghebreyesus sê die organisasie vra China voortdurend vir vinniger, gereelde, betroubare data oor hospitalisasie en sterftes en variante.

Beijing hou vol hy is deursigtig met die internasionale gemeenskap oor sy data.

Navorsers aan die Universiteit van Hongkong het beraam dat byna een miljoen Chinese hierdie winter sal sterf. Die Britse gesondheidsrisiko-analisemaatskappy Airfinity voorspel 11 000 sterftes en 1,8 miljoen infeksies per dag met ʼn totaal van 1,7 miljoen sterftes teen die einde van April.

Gesondheidsbeamptes het Saterdag gesê die gemiddelde ouderdom van diegene wat gesterf het, is 80,3 jaar, met meer as 90% van die sterftes diegene bo 65 jaar oud. Meeste het onderliggende toestande gehad. Miljoene bejaarde persone in China is nie ten volle ingeënt nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veronika ·

Maar hulle hou aan om al wat n gemors is te vreet, en hygiene is nie in hul boeke as dit by straat vendors kom nie.

Susanna ·

Om watter rede sou China alleen so erg wees. Seker ‘n manier om plan te maak met oorbevolking!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.