Byna 800 gevalle van aappokke in drie weke

Beamptes van die Anna Internasionale-lughawe in Indië ondersoek reisigers se hande vir moontlike simptome van aappokke. (Foto: AFP / Arun Sankar)

Minstens 780 laboratoriumbevestigde gevalle van aappokke is teen Sondag deur nie-endemiese lande by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aangemeld.

Die grootste oorsaak van oordrag blyk steeds weens seksuele aktiwiteite onder mans te wees, hoewel aappokke nie ʼn seksueel oordraagbare siekte is nie. Die WHO hou egter steeds vol dat die risikovlak wêreldwyd “matig” is.

 Volgens die organisasie is die 780 gevalle wat tussen 13 Mei en 2 Junie aangeteken is, waarskynlik ʼn onderskatting weens beperkte epidemiologiese en laboratoriuminligting.

“Dit is hoogs waarskynlik dat ander lande gevalle sal identifiseer en dat daar ʼn verdere verspreiding van die virus sal wees.”

Afgesien van die aantal mense wat hulle weens aappokke self isoleer, is min hospitaalopnames aangeteken.

Die meeste gevalle is tans in Brittanje (207), Spanje (156), Portugal (138), Kanada (58) en Duitsland (57) aangeteken. Benewens Europa en Noord-Amerika is enkele gevalle ook in Argentinië, Australië, Marokko en die Verenigde Arabiese Emirate aangemeld.

Een geval van aappokke in ’n nie-endemiese land word as ’n uitbreking beskou.

“Sommige lande meld dat nuwe generasie- gevalle nie meer net onder bekende kontakte van voorheen bevestigde gevalle verskyn nie. Dít dui daarop dat gevalle van oordrag waarskynlik weens onopgemerkte sirkulasie van die virus misgekyk word, het die WGO in ʼn verklaring gesê.

’n Partikel van die aappokkevirus tydens ’n uitbreking onder prêriehonde in 2003. (Foto: AFP)

“Hoewel die risiko vir menslike gesondheid en die algemene publiek tans laag bly, kan die openbare gesondheidsrisiko verhoog as die virus homself in nie-endemiese lande as ’n wydverspreide menslike patogeen vestig.”

Die WGO beoordeel die risiko op wêreldvlak egter as matig, aangesien dit die eerste keer is dat baie aappokkegevalle en -klusters gelyktydig in nie-endemiese en endemiese lande aangemeld word. 

‘Atipiese gevalle’ 

Die meeste gevalle wat tot dusver aangemeld is, is deur werkers in die veld van geslag- en seksuele gesondheid aangemeld, met merke wat aan pasiënte se geslagsdele gevind is. Dit is ook hoofsaaklik by mans aangetref.

Dié foto is in 2011 geneem tydens ’n uitbreking van aappokke in die Kongo. (Foto: AFP)

Volgens die WGO is dié soort “atipiese simptome” in baie gevalle opgemerk. In sommige gevalle het puisieagtige swere of vratjies ook voor klassieke simptome soos koors verskyn. Die WGO sê daar was geen sterftes wat verband hou met uitbrekings in nie-endemiese lande nie, maar gevalle en sterftes word steeds in endemiese gebiede aangemeld.

Die organisasie het endemiese lande gelys as Kameroen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Kongo-Brazzaville, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Liberië, Nigerië, Sierra Leone, Gaboen en Ivoorkus, asook Ghana waar die virus slegs by diere geïdentifiseer is. Uit die eerste sewe van dié lande is 66 sterftes in die eerste vyf maande van 2022 aangemeld.

Die WGO het verlede week meer as 500 kundiges en meer as 2 000 deelnemers byeengeroep om kennisgapings en navorsingsprioriteite oor aappokke te bespreek. Kenners het die behoefte aan kliniese navorsing van entstowwe en behandelings beklemtoon om hul doeltreffendheid beter te verstaan, en het gevra vir vinniger navorsing oor die siekte-epidemiologie en oordrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rooikoos ·

Ja, W.H.O en kie, Covid is mos nou besig om terug te staan. Natuurlik moet ‘n nuwe pandemie nou sy verskyn maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.