‘Vreemde verspreiding’ van aappokke ondersoek

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Kenners krap kop oor die skielike en buitengewone verspreiding van aappokke in lande waar die siekte nie endemies is nie.

ʼn Entstof staan ook reeds gereed om dié virus te behandel. Die entstof teen aappokke is in 2019, tot viroloë se verbasing, geregistreer, hoewel die jaarlikse gevalle destyds nie noemenswaardig baie was nie.

Byna 200 gevalle van aappokke is die afgelope week in minstens 15 lande aangemeld.

Prof. Salim Abdool Karim, Suid-Afrikaanse epidemioloog en die voormalige voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat dié virus gewoonlik nie maklik versprei nie.

“Normaalweg word slegs vyf of ses gevalle oor ʼn lang tydperk aangemeld. Dit is die eerste keer dat daar verskeie gevalle gelyktydig in baie lande en onder mense voorkom wat nie na die endemiese streke in Afrika gereis het nie.”

Hy sê kenners doen nou alles moontlik om te bepaal hoekom daar skielik so baie gevalle in die wêreld aangemeld word.

“Hierdie virus vereis langdurige persoonlike kontak voordat dit versprei, maar dit lyk asof dit nie nou die geval is nie. Ons probeer om te verstaan of die manier waarop die virus versprei, verander het,” sê hy.

“Die bewyse wat ons tans tot ons beskikking het, bevestig egter nog nie dat die verspreiding van aappokke verander het nie.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê ook dit is nog nie bekend of die virus muteer het nie.

“Virusse in die breër ortopoksvirusgroep is nie geneig om te muteer nie en is redelik stabiel,” het Rosamund Lewis, wat aan die hoof staan ​​van die pokke-sekretariaat oor die WGO-noodprogram, gesê.

“Ons het nog nie bewyse dat daar mutasies in die virus is nie.”

Lande soos Oostenryk, België en Nederland het onlangs menigte aappokkegevalle aangemeld, hoewel die virus nie endemies is in hierdie lande nie. Aappokke kom die algemeenste voor in afgeleë dele van Sentraal- en Wes-Afrika.

Aappokke is ʼn seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ʼn paar weke.

Die WGO het Maandag gesê die risiko dat aappokke wyd versprei onder die algemene bevolking waar die virus nie endemies is nie, is uiters skraal.

“Dit is ʼn beheerbare situasie. Ons kan mens-tot-mens-oordrag in nie-endemiese lande stop,” sê dr. Maria van Kerkhove, epidemioloog en die WGO se tegniese leier vir Covid-19.

Daar is voorheen berig dat baie van die jongste gevalle deur werkers in die veld van geslagsgesondheid opgespoor is, met merke wat aan pasiënte se geslagsdele gevind is.

Andy Seale, strategiese adviseur by die WGO se wêreldwye programme vir MIV/vigs, hepatitis en seksueel oordraagbare infeksies, het beklemtoon hoewel die virus deur seksuele aktiwiteit oorgedra kan word, dit nie ʼn seksueel oordraagbare siekte is nie.

“Enigiemand kan aappokke opdoen deur noue kontak met ʼn ander persoon.”

Eerder bang Jan as dooie Jan

België het onlangs aangekondig dat pasiënte by wie aappokke gediagnoseer word, vir 21 dae in kwarantyn moet bly, ten spyte daarvan dat enkele gevalle al in hierdie land aangemeld is en dit skynbaar nie te ernstig is nie.

Volgens Karim is hierdie moontlik die soort stappe wat talle lande sal implementeer, juis omdat dit ʼn doeltreffende manier is om verspreiding hok te slaan.

“Dit is beter om versigtig te wees. Indien Suid-Afrika enige gevalle kry, kan dieselfde soort reëls vir ons ook geld omdat ons Gesondheidswet die regering toelaat om verpligte kwarantyn in te stel,” sê hy.

“Tesame met verpligte kwarantyntydperke, kan iets soos uitkring-inentings gedoen word. Dit is waar ʼn geval geïdentifiseer word en die persoon wat siek is, asook diegene met wie hy of sy in aanraking was, teen aappokke ingeënt word.”

ʼn Maatskappy het reeds in 2019 ʼn inenting teen aappokke gelisensieer en geregistreer. Die inenting word egter nie op grootskaal geproduseer nie weens die relatief lae voorkoms van positiewe gevalle in die wêreld.

“Dit was vir ons vreemd om te sien dat ʼn inenting hiervoor gelisensieer is, aangesien daar nie destyds so baie gevalle was nie. Indien dit ooit wêreldwyd versprei, is daar darem nou die nodige ‘gereedskap’ om verdere verspreiding aan te spreek.”

Die voorheen verwoestende pokkeplaag (“smallpox”) is teen 1980 uitgewis, danksy ʼn grootskaalse inentingsveldtog. Pokke het in minder as ʼn eeu sowat 300 miljoen, oftewel drie uit elke tien, lewens geëis.

Hoewel kenners nie bekommerd is dat die jongste gevalle van aappokke eindelik dieselfde pad sal loop as die koronavirus nie, sê Karim dat lande steeds eerder versigtig is en die nuwe gevalle so gou as moontlik uit die weg wil ruim.

“Die kanse dat aappokke so wydverspreid en verwoestend soos Covid-19 sal wees, is onwaarskynlik, maar die moontlikheid kan nooit 100% uitgeskakel word nie,” sê hy.

“Mense was nog altyd bekommerd oor ʼn pandemie, hetsy dit Covid-19, MIV of Ebola is. Sodra jy weet waarmee jy te doen het, is die kanse beter om dit doeltreffend te bestuur.”

Volgens Karim het die Covid-19-pandemie toegesien dat Suid-Afrika daarop voorbereid is indien daar ooit weer ʼn grootskaalse virusverspreiding is.

“Weens die pandemie het Suid-Afrika onder meer sy laboratoriuminfrastruktuur opgeskerp; ons is dus goed toegerus om nog ʼn pandemie te pak.”

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Deon ·

Opvallend, baie min gevalle 5 tot 6, en dit in n ongedefinieerde periode “lang periode” …..En daarvoor is n entstof ontwikkel? Sjoe ek is bly die medisyne makers gee so mooi om vir almal

domheks ·

Is die entstof – soos vir kindersiektes – om dit te voorkom? Of soos vir Covid – jy kan nog steeds die siekte kry?

Piet ·

Nou dat kamstige covid nie meer so ń ding is nie moet hulle iets anders vind om die wereld te vaccinate met wie weet wat

Johann101 ·

Wat van soek die oorsprong by amerika… dis hulle wat reg oor die wêreld biological laboratories finansier…

Manie ·

Verbasend hoeveel entstowwe 1-2 jaar voor virus uitbrake plaasvind geregistreer word. Selfs ‘n ou vergete virus soos aappokke. Dit laat ‘n mens dink ne? Kan iemand dalk vir ons sê wie die aappokke entstof in 2019 geregistreer het? Hoe lyk dit dan asof daar oop kraantjie, toe kraantjie gespeel word met die mensdom?

ENFM ·

“Dis nie ‘n baie ernstige siekte nie.”
“Daar is klaar ‘n entstof.”
Dis nie baie aansteeklik nie.
Dan word die een wat dit het en almal wat met die persoon in aanraking was geënt?
Van wanneer af ent mens teen ‘n virus wat jy klaar gehad het? Die feit dat jy die virus gehad het, gee jou mos weerstand teen die infeksie.

Die simptome is ‘n uitslag wat baie soos gordelroos lyk? Newe effek van die huidige spuit is onder andere gordelroos.
Ag nee REGTIG?

So dis waarom die gesondheidswetgewing op so onderduimse manier in die middel van die nag verander is? Nou kan ons soos ape in kwarantyn geplaas word en gedwing word om nog inspuitings te kry.

SANET ·

Ek is glad nie verbaas nie. Nie oor die virus of inenting wat reeds geregistreer is nie. Dis alles georkestreer. Christene julle moet die waarheid in die Bybel gaan soek. Dit is alles daarin vervat. Wie ore het laat hulle hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.