Catherine: Kankerskok vir Britse prinses

Catherine, prinses van Wallis, se aankondiging het skokgolwe veroorsaak. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Catherine, prinses van Wallis, wat Vrydag bekend gemaak het dat kanker by haar gediagnoseer is, is ʼn sentrale figuur in die Britse koningshuis. Sy het talle harte gewen danksy haar ondersteuningsrol aan die sy van haar man, William, die Britse troonopvolger.

Kate Middleton (42), soos sy voorheen bekend was, het William op universiteit ontmoet waar hulle ʼn huis gedeel het voordat hulle verloof geraak en toe in 2011 getroud is. Hoewel sy nie uit ʼn koninklike of aristokratiese familie kom nie, het Catherine nog altyd die indruk gewek dat sy die uitdagings van ʼn koninklike lewe maklik hanteer. Sy het gou een van die familie se gewildste lede geword.

As ʼn toekomstige koningin-gemalin en die ma van die volgende troonopvolger, prins George, is haar kankerdiagnose ʼn hou diep in die hart van die instelling.

Die aankondiging kom terwyl koning Charles III self ʼn stryd met kanker voer; Catherine is gesien as iemand wat kan instaan en die koningshuis op koers kan help hou terwyl hy aansterk. Die skokonthulling volg kort nadat die Kensington-paleis aangekondig het dat Catherine ʼn operasie aan haar buik ondergaan het en maande lank uit die openbare oog sal moet aansterk.

Dit het wilde bespiegeling en groot omstredenheid tot gevolg gehad.

Sleutelbate

Catherine het ná haar huwelik met William ietwat van ʼn medialiefling geword. Danksy haar afgeronde voorkoms en bereidwilligheid om met mense te gesels, val fotograwe oor hul voete om haar af te neem.

Sy speel ook die rol van mode-muse en het selfs al die voorblad van die Britse Vogue gehaal. Sy meng ontwerpersuitrustings met ander handelsmerke wat dan wêreldwyd nageboots word.

In Engeland word vroue in die koningshuis graag met William se ma, wyle prinses Diana, vergelyk. Die voormalige Britse eerste minister het ná haar dood na prinses Di, soos sy graag genoem is, as “die prinses van die mense” verwys. Die voormalige lady Diana Spencer was ʼn lid van die aristokrasie toe sy in 1981 met William se pa, toe nog prins Charles, getroud is.

Kate, in teenstelling hiermee, is ʼn gewone burger – al is dit ʼn uiters welvarende een – wie se ouers ʼn simbool van sogenaamde maatskaplike mobiliteit is. Haar ma is ʼn voormalige vlugkelnerin en haar pa ʼn vlugbeheerder by British Airways. Die egpaar het ʼn fortuin gemaak met ʼn onderneming wat partyware lewer en dit het hulle toegelaat om hul dogter na ʼn top- private skool in Marlborough te stuur.

Perfekte beeld

Kate het William in die vroeë 2000’s by die Universiteit van St. Andrews in Skotland ontmoet waar sy kuns studeer het. ʼn Lang hofmakery en selfs ʼn saamblyery – ongekend vir koninklikes – het tot die verlowing in 2010 en die troue in April 2011 gelei.

Sy is ʼn geesdriftige ondersteuner van organisasies wat werk doen in vroeë kinderontwikkeling en geestesgesondheid en Kate het weggebly van die konstante skinderstories en gerugte wat gewoonlik met so ʼn hoëprofielrol gepaard gaan.

Sy is ʼn rots vir William en het probeer om ʼn goeie voorbeeld vir George en sy, sibbe Charlotte en Louis, te stel. Die egpaar probeer ook om hul kinders soveel as moontlik teen die kollig te beskerm.

Kate en William deel ‘n soen tydens hul troudag in 2011. (Foto: Leon Neal/AFP)

Kate, ʼn ywerige amateurfotograaf, het ook al verskeie amptelike gesinsfoto’s geneem. Dit het vroeër vandeesmaand tot omstredenheid gelei te midde van haar lang afwesigheid uit die openbare oog ná haar operasie.

Paleisamptenare het ʼn foto versprei van Kate en die kinders, wat William glo sou geneem het, om gerugte teen te werk oor haar welstand en waar sy haar bevind. Die plan het sleg skeefgeloop toe groot nuusagentskappe, ook AFP, die foto weens die digitale manipulasie daarvan onttrek het. Kate het skuld daarvoor aanvaar, en erken dat sy soms haar foto’s redigeer. Die verskoning het weinig gedoenom bespiegelings te stuit.

Familievete

Catherine het vantevore geswyg oor persoonlike aanvalle, insluitend ongegronde bewerings dat William ontrou sou wees, die rede vir haar gewigsverlies en die oënskynlik kil verhouding met haar skoonsuster, Meghan.

Die vete tussen William en sy broer, Harry, word glo deels aangevuur deur laasgenoemde se sinspeling dat Catherine as koninklike bruid gekies is omdat sy in die beeld daarvan pas.

“Deur haar stilte te handhaaf het sy duidelik die koningin [wyle Elizabeth II] as rolmodel gebruik,” sê Pauline Maclaran, skrywer van die boek Royal Fever: The British Monarchy in Consumer Culture.

Catherine laat die koninklikes meer gepas vir die 21ste eeu lyk, sê Maclaran.

Tog is daar altyd maar katterigheid, onder meer oor haar ewig onkreukbare voorkoms – selfs enkele ure nadat sy gekraam het. Sommige feministiese kommentators het haar al daarvan beskuldig dat sy onrealistiese verwagtinge vir vroue skep. Die Britse rolprentster Keira Knightley het al opgemerk dat Kate se foutlose voorkoms druk op vroue plaas om “beeldskoon te lyk” en “ons pyn te versteek”.

Die skrywer Hilary Mantel het Catherine selfs daarvan beskuldig dat sy lyk soos ʼn “winkelpop met geen persoonlikheid van haar eie nie”.

Kankerdiagnose

En nou het die prinses kanker.

Boodskappe van beterskap het van regoor die wêreld ingestroom; van hooggeplaastes, politici en gewone mense. Ook Harry en Meghan het haar ʼn spoedige herstel toegewens.

Catherine is ook geloof vir die openhartige en persoonlike aankondiging wat sy gedoen het. Sy het haar diagnose self in ʼn videoverklaring wat Woensdag by Windsor opgeneem is, gedeel. Hierin verwys sy onder meer na hoe sy en William tyd geneem het om die diagnose aan hul drie kinders te verduidelik en hulle te verseker dat sy oukei is.

Sy het ook gevra vir ruimte, tyd en privaatheid terwyl sy voorkomende chemoterapie ondergaan.

“Baie mense sou diep geraak gewees het deur die manier waarop sy haarself in daardie uitsending van twee minute gehandhaaf het,” sê die koninklike kenner Richard Fitzwilliams.

“Maar daar is geen twyfel dat dit ʼn baie, baie moeilike tyd vir die monargie is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.