Celine Dion se toestand verswak

Céline Dion in September 2018 in Quebec, Kanada. (Foto: Alice Chiche / AFP)

Die Kanadese sangeres, Céline Dion, “veg moedig voort” ten spyte daarvan dat sy by die dag verswak en boonop beheer oor haar spiere verloor het.

Céline het in Desember verlede jaar bekendgemaak dat sy aan ʼn seldsame neurologiese afwyking, Moersch-Woltman-sindroom, ly. Dié toestand het kenmerke van ʼn outo-immuunsiekte en simptome sluit onder meer spierspasmas en groter sensitiwiteit vir geraas en aanraking in. Céline het destyds in ʼn video gesê dit beïnvloed ook haar stem.

Claudette Dion, Céline se suster, het vroeër vandeesweek bekendgemaak dat Céline beheer oor die werking van haar spiere verloor het.

“Wat my hart breek, is dat sy nog altyd gedissiplineerd was. Sy het nog altyd hard gewerk,” het Claudette aan die Franse nuusblad, 7 Jours, vertel.

“Ons ma het altyd vir haar gesê: ‘Jy gaan so goed doen, jy gaan dit behoorlik doen.’ Ek en my sussie droom daaroor dat sy terugkeer verhoog toe; in watter kapasiteit weet ons nie.”

Die 55-jarige superster, bekend vir treffers soos My Heart Will Go On, het in Mei vanjaar haar Courage-wêreldtoer afgestel weens die sindroom, wat pynlike spierspasmas kan veroorsaak.

Volgens Claudette woon hul ander suster, Linda, tans by Céline in Las Vegas terwyl sy behandeling vir die sindroom ontvang. Sy is vroeër vanjaar vir die eerste keer in jare in die publiek gekiek, terwyl sy saam met haar 22-jarige seun, René-Charles, en 13-jarige tweeling, Nelson en Eddy, ʼn hokkiewedstryd bygewoon het.

Bykomende bronne: E! News 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.