China-vliegramp: Vlugopnemer gevind

Soek- en reddingswerkers op die toneel van die China Eastern- vliegtuigongeluk (21 Maart 2022) (Foto: STR/AFP)

ʼn Vlugopnemer van ʼn China Eastern-vliegtuig wat met 132 persone aan boord in ʼn berg in die suide van China vasgevlieg het, is Woensdag gevind.

Die oorsaak van die ongeluk het lugvaartowerhede laat kopkrap en die ruwe terrein word gefynkam vir leidrade. Dit blyk of daar nie enige oorlewendes is nie en dit maak die ongeluk een van China se dodelikste vliegtuigongelukke in byna 30 jaar.

Beamptes het bevestig dat ʼn vlugopnemer, vermoedelik die stuurkajuit-stemopnemer, gevind is en dit kan vermoedelik belangrike leidrade verskaf oor die oorsaak van die ongeluk.

Zhu Tao, ʼn beampte by China se lugvaartowerheid, het aan verslaggewers gesê die buitekant van die boks is “ernstig beskadig” en die stoor-eenheid is ook beskadig, maar is relatief volledig.

Die Boeing 737-800 het twee vlugopnemers gehad: een in die agterkantste passasierskajuit wat vlugdata versamel en die ander ʼn stemopnemer in die kajuit saam met die vlieëniers.

Reddingswerkers is nog op soek na die ander opnemer.

Beamptes het egter nog nie alle passasiers dood verklaar nie, ondanks die wrakstukke en gebrande besittings waarop reddingspanne afgekom het.

Zheng Xi, hoof van die gebied se reddingsdiens, het Woensdagaand gesê dat daar wel menslike oorskot gevind is.

AFP-verslaggewers het vroeër in die dag gesien hoe ʼn klein groepie mense deur beamptes begelei word na die toneel. Een middeljarige man het later bevestig hy is ʼn familielid van iemand wat aan boord die vliegtuig was. Hy het die media gevra om hom nie te steur nie.

Reddingswerk duur voort oor die 45 200 m² ongelukstoneel. Werkers, geklee in oranje oorpakke, gebruik honde, hommeltuie en skandeerders om die puin te deursoek.

Die Boeing 737-800 het Maandagmiddag naby Wuzhou in die suide van China neergestort ná kontak met lugverkeerbeheer verloor is. Tot en met daardie stadium was daar normale kommunikasie met grondpersoneel, het staatsmedia berig.

Die kaptein het meer as 6 700 vlugure ervaring en die eerste medevlieënier het meer as 31 000 vlugure ervaring, het beamptes Woensdag gesê. Daar was ʼn tweede medevlieënier aan boord met meer as 550 vlugure. Al drie vlieëniers was gesond en het nie enige persoonlike probleme gehad nie.

China Eastern het gesê die vliegtuig, wat byna sewe jaar oud was, het voor die vlug aan alle lugwaardigheidsvereistes voldoen.

Lugvaartowerhede sê nog bewyse en getuienis is nodig voor hulle enige gevolgtrekkings kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Staal ·

Die Boeing 737 is nie baie betroubaar is nie. Tussen 2019 en 2020 is daar 346 mense dood in die vliegtuie… sit nou 132 mense by (478 2019-2020).

Johan ·

Dit was in 2 ongelukke waar die Boieng 737 Max betrokke was, nie die 737-800 soos nou in China nie. Die probleem met die Max is intussen reggestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.