Chinese toeriste sal Covid-19-toetse moet doen

Werkers met beskermingstoerusting help ʼn Chinese reisiger by die aankomssaal in Rome (29 Desember 2022) (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Frankryk en Brittanje het Vrydag by ʼn rits lande aangesluit wat Covid-19-toetse sal eis vir reisigers van China. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het druk op Beijing geplaas om meer deursigtig te wees oor intydse data te midde van ʼn skielike toename in gevalle in die land.

Spanje, Suid-Korea en Israel het reeds gesê hulle sal bewyse van ʼn negatiewe toets verg vir enigiemand wat uit China reis.

China het Vrydag volgehou dat hy deursigtig is met sy Covid-19-data, ondanks hospitale en lykshuise wat oorweldig is. Daar is toenemende kommer in die internasionale gemeenskap oor die werklike toedrag van sake omdat China lae amptelike getalle oor infeksies en sterftes aanmeld.

ʼn Senior gesondheidsbeampte in die VSA het vroeër vandeesweek gesê Beijing het slegs beperkte data op die internasionale databasis vrygestel oor variante wat in China die ronde doen; sy toetse en verslagdoening oor nuwe gevalle.

Die WGO het die belangrikheid benadruk van monitering en om data betyds te publiseer “om China en die wêreldwye gemeenskap te help om doeltreffend te reageer”.

Wang Wenbin, woordvoerder van China se ministerie oor buitelandse sake, verwerp egter bewerings dat die land nie deursigtig is oor sy data nie. “Sedert die uitbreking van die epidemie het China alle betrokke inligting en data met die internasionale gemeenskap, insluitend die WGO, gedeel.”

ʼn Nasionale siektebeheerorganisasie in China sê daar was sowat 5 500 nuwe plaaslike gevalle en een sterfte Vrydag, maar met die beëindiging van massatoetse en die vermindering van kriteria wat gevalle as ʼn Covid-sterfte klassifiseer, word dié getalle nie meer as geloofwaardig beskou nie.

Brittanje, Frankryk, Spanje, Suid-Korea en Israel het aangesluit by Italië, Japan, Indië, Maleisië, Taiwan en die VSA wat negatiewe Covid-19-toetse betref vir alle reisigers van China. In Brittanje geld die vereiste vanaf 5 Januarie.

Switserland het egter gesê hy hou sy grense oop vir reisigers van China. Duitsland het Vrydag ook aangedui dat hy nie tans ʼn behoefte sien om roetine-toetse vir toeriste van China te vereis nie.

Airfinity, ʼn Britse maatskappy wat analise doen oor gesondheidsrisiko’s, beraam tans sowat 9 000 daaglikse sterftes en 1,8 miljoen infeksies per dag in China. Die maatskappy verwag sowat 1,7 miljoen sterftes in China teen die einde van April 2023. Die getalle is gebaseer op provinsiale data van China.

Die wêreld se mees digbevolkte land sal vanaf 8 Januarie sy bestuur van Covid-19 afgradeer en dit as ʼn Klas B-infeksie beskou eerder as die meer ernstige Klas A. China sal vanaf 8 Januarie ook sy reisbeperkings ophef en dit sal waarskynlik tot ʼn “beduidende toename” lei in reisigers van China.

Intussen het Fedhasa, die Suid-Afrikaanse bedryfsliggaam vir hotelle, restaurante en toerisme-ondernemings, die opheffing van die reisverbod in China verwelkom. Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa, sê Suid-Afrika poog al lankal om Chinese reisigers te lok, maar die getalle het laag gebly – grootliks vanweë aansoeke vir visums om die land te besoek. In 2019 het sowat 155 miljoen Chinese wêreldwyd gereis. Suid-Afrika het slegs ʼn breukdeel van dié getal reisigers, 93 171 besoekers, gehad.

“Ons hoop dat as deel van die pogings om visumaansoeke te vergemaklik, sal ons regering ook die groot moontlikhede van dié mark raaksien.”

Anderson sê Suid-Afrika se post-Covid-herstel in 2022 is aangehelp deur die luukse reismark van Noord-Amerika en Europa. “Toenemende geopolitiese spanning, inflasionêre druk en druk op ekonomieë is daar kommer dat dié aanvraag in die nuwe jaar sal afneem. Die verwagting is egter dat Chinese reisigers in hul Westerse eweknieë se voetspore sal volg om weer gereeld te reis. Ons hoop dat Suid-Afrika hierop sal kan kapitaliseer.”

Sy sê daar is groot moontlikhede in die Chinese mark vir Suid-Afrika se toerisme en gasvryheidsbedryf – nie net wat betref die grootte van die mark nie, maar ook besteding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.