Christen-kerkgangers in Soedan aangeval

Verskeie skietgevegte en lugaanvalle is die afgelope tyd in die digbevolkte Khartoem en ander dele van Soedan geloods. (Foto: AFP)

Talle mense is die afgelope naweek gewond toe aanvallers op aanbidders in ʼn Christen-kerk in Soedan losgebrand het.

Soedan se weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF) het intussen die skuld vir die aanval op mekaar gepak in ʼn poging om hulself van blaam te onthef.

Soedan se militêre leier, Abdel Fattah al-Burhan, het kort ná die aanval gesê die paramilitêre magte het “skote op Christene afgevuur” terwyl hulle by die Mar Girgis (St. George)-kerk in Omdoerman aanbid het.

RSF-generaal Mohamed Hamdan Dagalo het op sy beurt Al-Burhan se aantygings ontken. Hy sê die aanval, wat “ernstige beserings onder die aanbidders veroorsaak het”, is ʼn “agterbakse veldtog wat ons magte teiken”.

Al-Burhan en Dagalo, sy voormalige adjunk, is die afgelope tyd in gevegte gewikkel weens ʼn geskil oor die toekoms van die land ná die verwydering van die voormalige president Omar al-Bashir in 2019.

Die strydende generaals het al by verskeie geleenthede skietgevegte en lugaanvalle in die digbevolkte Khartoem en ander dele van Soedan oor die kwessie geloods.

Honderde mense is in die proses dood, duisende is gewond en byna ʼn miljoen mense ontwortel in ʼn massiewe uittog uit die land.

Verteenwoordigers van albei generaals het Donderdag in Saoedi-Arabië vergader en onderneem om internasionale humanitêre regte te eerbiedig.

Die ooreenkoms wat deur Saoedi-Arabiese en Amerikaanse tussengangers bemiddel is, kom nie op ʼn wapenstilstand neer nie, maar maak voorsiening vir die veilige deurgang van dringende humanitêre hulp vir burgers. Die onderneming is ook van so ʼn aard dat menselewens in die gevegte beskerm sal word.

Weens die voortslepende konflik in die land, kon AFP nie die Mar Girgis-kerk vir kommentaar oor die jongste skietvoorval bereik nie. Dit is in hierdie stadium nog onbekend wat die omvang van die aanval is.

Soedannese Christene is dekades lank onder Al-Bashir se bewind vervolg. Ná ʼn staatsgreep deur Al-Burhan en Dagalo in 2021 is die land se oorgang na ʼn demokrasie ontspoor.

Christene maak slegs 3% van Soedan se bevolking uit, maar leiers van die Christelike kerk voer aan dat die werklike syfer veel hoër is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Heinrich ·

Interessant dat ‘n lewenstyl wat ‘n geloof in hoop en liefde bevorder op so baie plekke met geweld uitgeroei moet word…

Nettie ·

Is dit nie, Heinrich? Maar ongelowiges kan net nie die kloutjie by die oor uitbring nie. Hoekom sal Christene die ergste in mense uitbring? Die Bybel spel dit baie duidelik uit hoekom.

JvR ·

Tog is die bybel die boek met die meeste geweld, volks moord ens. En nie eers van die duiwel se kant af nie

Danie ·

Daar is altyd oorlog tussen die bose en Christene. Dit blaam word egter meestal op Christene (slagoffers) geplaas. Soms omdat hulle iets nie doen nie. soms omdat hulle iets doen. Dit sal eers ophou met Jesus se wederkoms.

Hendrik ·

Die werklikheid is maar die feit dat die mens
met n sondewese besmet is. Die stryd tusse lig en duisternis is ewe eens n werklikheid en die impak van die geweldige duisteremag word met hd optrede bevestig. Tog bly die LIG die onoorwinlike.

wildtuin ·

Die boek Openbaring sê volgelinge van die Here Jesus kan of sal vervolging ervaar in die lewe, dit sal deel wees van die eindtyd waarin ons nou verkeer. Christus het egter oorwin en wanneer Hy weer kom
sal Hy die bose finaal verpletter en ons gelowiges sal vir ewig deel in Sy oorwinning. kom onss bid dat ons geloof enduit staande sal bly.

Miskruier ·

Tweespalk om mense uit mekaar te dryf. Duisende te laat vlug en dan die grond te annekseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.