Christine McVie van Fleetwood Mac sterf

Christine McVie (Foto: Steven Ferdman/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/AFP)

Christine McVie van die groep Fleetwood Mac is in die ouderdom van 79 oorlede.

Volgens ’n verklaring van haar familie is sy “vreedsaam” dood terwyl sy in die hospitaal opgeneem was “na ’n kort siekbed”.

Fleetwood Mac het op sy beurt in ’n verklaring gesê McVie was “werklik enig in haar soort, spesiaal en uitermatig talentvol”.

“Sy was die beste musikant wat enigiemand in hul orkes kon hê en die beste vriend wat enige iemand in hul lewe kon hê. Sy sal so baie gemis word.”

McVie is in 1968 met John McVie getroud wat baskitaar vir Fleetwood Mac gespeel het. Sy het in 1970 amptelik as sanger, liedjieskrywer en klawerbordspeler by die groep aangesluit.

McVie het talle van die groep se treffers geskryf, onder meer “Over My Head”, “Say You Love Me”, “Don’t Stop”, “Songbird” en “You Make Loving Fun”.

Christine en John is in 1978 geskei. Fleetwood Mac was een van die gewildste en invloedrykste musiekgroepe van die 1970’s en 1980’s.

McVie is in 1998 saam met haar mede-groeplede in die Rock ’n’ roll-heldesaal ingesluit.

Van Fleetwood Mac se ander groot treffers sluit in “Dreams” en “Go Your Own Way”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Rus in vrede. Jy, en Fleetwood Mac het my lewe soeveel geluk gebring. Dit was musiek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.