Covid-19: Beijing weer gedeeltelik ingeperk

Mense met maskers loop in die strate van Beijing (Foto: Wang Zhao, AFP)

Beijing is weer gedeeltelik ingeperk nadat etlike nuwe Covid-19-gevalle in dié Chinese hoofstad aangeteken is. China het Woensdag 103 nuwe gevalle aangemeld. Sewe daarvan was in Beijing, waarvan ses in die suidelike Daxing-distrik aangemeld is.

Chinese owerhede glo dat dié gevalle verband hou met die nuwe Britse virusvariant.

Inwoners van vyf woonbuurte in Beijing, waar die nuwe gevalle aangemeld is, is van Woensdag verbied om die stad te verlaat in reaksie op die pandemie, wat net meer as ʼn jaar gelede in die Chinese stad Wuhan uitgebreek het.

Die owerhede het spoedig nuwe regulasies ingestel om te verhoed dat die virus verder versprei.

Volgens die Daxing-regering mag inwoners glad nie die stad verlaat tensy hulle spesiale toestemming van die owerhede het, of die afgelope drie dae negatief vir Covid-19 getoets het nie.

In hierdie woonbuurt word byeenkomste van 50 of meer mense ook verbied, terwyl troues uitgestel en minder mense by begrafnisse toegelaat word. Alle kleuter-, laer- en hoërskole in hierdie distrik het ook hul leerders aangeraai om vir eers tuis aan te gaan met onderrig.

Amptenare het gesê dat twee van die nuwe gevalle in Daxing gekoppel word aan die variant van die nuwe koronavirus wat in die Verenigde Koninkryk ontdek is. Hierdie variant is meer oordraagbaar.

Pang Xinghuo, die hoof van die Beijing-gesondheidsowerheid, sê hierdie nuwe gevalle het “geen genetiese ooreenkoms” met plaaslike gevalle wat voorheen aangemeld of in Beijing ingebring is nie.

Met die Chinese Nuwejaarsvakansie wat voorlê, wil owerhede die verdere verspreiding van die virus so vinnig moontlik die nek inslaan.

Owerhede verwag dat ongeveer 40 miljoen mense daagliks tydens dié vakansie sal reis. Die Nasionale Gesondheidskommissie het egter gesê dat reisigers eers ʼn negatiewe Covid-19-toetsuitslag sal moet toon voordat hulle kan terugkeer huis toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

China het Covid-19 in ‘n laboratorium geskep en toe oor die wêreld heen versprei, net om van Donald Trump ontslae te raak. Vandag was Trump se laaste werkdag as president. Die liberale Joe Biden vat môre oor. So China het in hulle doel geslaag. Dit is dus uiters vreemd dat daar nog steeds Covid-19 in China is. Dié hele Corona ding moes al begin verdwyn het die dag nadat Trump in November laasjaar die verkiesing verloor het. Iets maak nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.