Covid-19-betogings vat vlam in VSA

ʼn Konvooi voertuie het in Washington DC byeengekom. (Foto: Drew Angerer/Getty images/AFP)

ʼn Konvooi voertuie van byna drie kilometer het Sondag in Washington DC in die VSA byeengekom in protes teen die land se Covid-19-verwante regulasies.

Honderde vragmotors, sportnutsvoertuie en motors het kruipend op die Beltway-snelweg, wat Washington DC omsingel, gery in ʼn poging om verkeer na die stad tot ʼn stilstand te bring, berig New York Post.

Die bestuurders het glo deurlopend op hul toeters gelê, terwyl omstanders Amerikaanse vlae geswaai het.

Hoewel betogers nie daarin geslaag het om verkeer heeltemal te ontwrig nie, het dit verskeie punte op die snelweg hewiglik vertraag.

Organiseerders van die betoging het glo gesê hulle beplan om Maandag weer stadig op hierdie snelweg te ry, terwyl ander bestuurders van mening is dat hulle sal terugkeer huis toe, berig CTV News.

Die betogers het Vrydag en Saterdag by die Hagerstown-renbaan in Maryland bymekaargekom voordat hulle Sondag na Washington DC toe gery het. Dié renbaan is byna 130 km van Washington DC af.

Een van die betogers, wat homself as die voorste vragmotorbestuurder beskryf het, het Vrydagaand by die renbaan vir ʼn juigende skare gesê dat hy met sy vragmotor in die hartjie van die Amerikaanse hoofstad sal inry.

“Die regering en wie ook al kan beweer dat hulle teenkanting het wat vir ons in DC wag, maar daardie vlag op die agterkant van my trok sal na die Withuis en die Washington-monument gaan,” het hy gesê.

Amerikaanse federale wetstoepassingsagentskappe koördineer al weke lank met staat- en plaaslike owerhede ter voorbereiding vir die moontlike aankoms van die konvooi, berig CTV News.

Die jongste konvooi met bestuurders wat eis dat die koronavirusregulasies in die land opgeskort word, kom nadat betogings hieroor verlede maand in Kanada hardhandig beëindig is.

Nuwe betogings het egter die naweek in die Kanadese hoofstad, Ottawa, uitgebreek waartydens die betogers geëis het dat die polisie alle vlakke van die regering verantwoordelik hou vir die feit dat die Covid-19-betogings so lank voortgeduur het voordat iets daadwerkliks daaraan gedoen is, berig CBC.

“Ons stuur vir hulle ʼn boodskap dat daar aanspreeklikheid moet wees,” het Hassan Husseini, ʼn organiseerder van die betoging, gesê.

Dit het owerhede weke gevat om magte van regoor die land te ontplooi om die middestad terug te vat.

Minstens 170 mense is tydens die betogings in hegtenis geneem en 53 voertuie is weggesleep.

NZ-betogings tot ʼn einde gebring

Betogers het hul kampeerterrein voor die parlementsgebou aan die brand gesteek. (Foto: Marty Melville/AFP)

Die betogings in Wellington, Nieu-Seeland, is verlede week skielik tot ʼn einde gebring nadat die polisie druk op die betogers geplaas het en dié eindelik hul kampeerterrein voor die parlementsgebou aan die brand gesteek het.

Die polisie het hul vreedsame benadering in die hantering van betogers gestaak nadat dié betoging weke lank die lewens van inwoners ontwrig het.

Honderde polisiebeamptes het met skerms en pepersproei die skare ingevaar, terwyl waterkanonne gebruik is om die betogers terug te dwing. Die betogers het egter hierop gereageer en beamptes met bottels, bakstene en verfbomme bestook.

Toe dit egter duidelik word dat die polisie die oorhand het, het ʼn klompie betogers dele van die kampeerterrein voor die parlementsgebou aan die brand gesteek.

Niemand is egter in die brand beseer nie.

“Dit is nie verby nie,” het een man geskree terwyl die gebied in ʼn rookwolk gehul is.

Volgens AFP het die polisie ook ʼn supersoniese kanon ontplooi om te help om die skare uiteen te jaag. ʼn Paar dosyn betogers het egter hergroepeer en in nabygeleë strate met die polisie slaags geraak.

ʼn Aantal betogers is glo in hegtenis geneem vir ʼn reeks oortredings en minstens drie beamptes het geringe beserings opgedoen.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het die beamptes se taktiek gesteun, maar die geweld wat gevolg het veroordeel.

“Die hele voorval is ʼn aanval op ons parlement, ʼn aanval op ons waardes, en dit is verkeerd,” het sy aan verslaggewers in die parlement gesê terwyl die oproer buite die gebou voortgeduur het.

Sy het gesê wat begin het as ʼn beweging teen Covid-19-entstofmandate – wat deur soortgelyke betogings in Kanada geïnspireer is – het giftig geword.

Volgens Ardern verteenwoordig die betogers ʼn klein groep ekstremiste wat deur samesweringsteorieë en verkeerde inligting aangevuur word.

“Ons het ʼn moeilike reis voor ons om aandag te gee aan die onderliggende oorsaak van wat hier gesien is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

So word Tredeux, Biden en Arderrn aan die verkeerde kant van die geskiedenis gemeet. BLM mag chaos maak maar mense wat betoog vir hulle reg om onder Neuremberg se beskerming te val se regte word vertrap.

Jaco ·

Dié berig verwys na die staat Washington en ook die stad Washington DC. Daar is ‘n BAIE groot verskil tussen dié 2. Hulle is omtrent 5000km van mekaar af.

Janice du Plessis ·

Dagsê Jaco
Baie dankie vir jou kommentaar.
Die artikel is intussen gewysig om verdere verwarring te voorkom.
Groetnis,
Janice du Plessis
nms
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.