Covid-19: Europa se eerste geval dalk al in Desember

‘n Standbeeld dra Maandag ‘n masker op Trocadero-plein in Parys, Frankryk. (Foto: Christophe Ena, ANA)

’n Franse dokter het onthul dat ’n pasiënt wat einde Desember in ’n hospitaal in een van die voorstede van Parys in Frankryk vir longontsteking behandel is, eintlik Covid-19 onder lede gehad het. Dit beteken dat die nuwe koronavirus bykans ’n maand vroeër in Europa uitgebreek het as wat daar aanvanklik gedink is.

Dr. Yves Cohen van die Avicenne- en Jean Verdier-hospitaal in die noordelike voorstede van Parys vertel dat hy onlangs weer ou monsters van pasiënte vir Covid-19 getoets het. Volgens Cohen het ’n monster wat op 27 Desember by die betrokke pasiënt geneem is, positief teruggekom.

Die pasiënt, wat sedertdien herstel het, sê nou hy het geen idee waar hy die virus opgedoen het nie, aangesien hy nie na die buiteland gereis het nie. Volgens Cohen moes die pasiënt die virus tussen 14 en 22 Desember opgedoen het in ag genome die inkubasietydperk van die virus. Dit neem ook sowat vyf dae om simptome te toon.

Die pasiënt se vrou werk in ’n supermark naby die Charles de Gaulle-lughawe buite Parys. Daar word nou bespiegel of sy vrou moontlik só die virus kon opdoen en bloot geen simptome getoon het nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dit is moontlik dat al meer vroeë gevalle aan die lig gaan kom. Dit nadat ’n nadoodse ondersoek in Kalifornië in die VSA sowat twee weke gelede onthul het dat dié land se eerste sterfte weens Covid-19 weke vroeër aangemeld is as wat daar aanvanklik gedink is.

Christian Lindmeier, woordvoerder van die WGO, het nou lande versoek om alle rekords vir soortgelyke gevalle na te gaan om ’n meer duidelike beeld van die verspreiding van die nuwe koronavirus te kry.

Altesaam 169 462 bevestigde gevalle van Covid-19 is in dié stadium in Frankryk aangemeld, met 51 371 pasiënte wat reeds herstel het. Die land se dodetal staan op 25 201.

Altesaam 3 669 747 gevalle van Covid-19 is reeds in 212 lande aangemeld. Meer as 253 000 mense het in dié stadium weens die virus gesterf hoewel 1 210 591 reeds van Covid-19 herstel het.

Bronne: ANA, BBC, CNN, Worldometer

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.