Covid-19: Rusland se gevalle styg daagliks met duisende

(Foto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Rusland se koronavirusgevalle het Maandag verder gestyg toe meer as 4 200 nuwe besmettings aangemeld is.

Die land se gevalle het vandeesmaand eksponensieel toegeneem en die afgelope week daagliks met ʼn paar duisend gestyg. Teen Maandag is meer as 47 100 gevalle bevestig in vergelyking met 2 700 gevalle op 1 April.

Meer as 400 persone in die land het reeds weens komplikasies wat met die virus verband hou, gesterf.

“Die situasie bly ʼn uitdaging en ongelukkig duur die verspreiding van die epidemie voort,” het Wladimir Poetin, president van Rusland, Maandag gesê. Poetin het gesê self-isolasie is die enigste praktiese opsie om die verspreiding van die virus te voorkom. Hy het sy beamptes opdrag gegee om voorbereidings te tref vir die slegste scenario en gesê die weermag kan moontlik betrek word vir verdere reaksiemaatreëls.

Die grootste deel van die land is in algehele afsondering, ʼn maatreël wat net meer as drie weke gelede in Moskou ingestel is om die uitbreking te beheer.

“Die voorkomingsmaatreëls het ons in staat gestel om die verspreiding van die virus te verlangsaam en die proses te beheer,” het Poetin in ʼn videokonferensie aan senior beamptes gesê. “Die besmetting is egter in al 85 streke bevestig.”

Moskou het die meeste gevalle van Covid-19 aangemeld, ongeveer die helfte van die land se gevalle.

Anastasia Rakova, adjunk-burgemeester in beheer van maatskaplike kwessies, het voorspel die getal gevalle in Moskou sal volgende maand ʼn plato bereik.

Inwoners word aangeraai om slegs hul huise te verlaat indien dit absoluut noodsaaklik is, soos om kos of medisyne te koop, vuilgoed weg te gooi of met ʼn troeteldier te stap. Inwoners in Moskou moet ʼn spesiale permit hê om in die stad rond te ry.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DieKriek ·

Goeiste! Waar is al daardie mense wat gesê het Rusland ondersteun Sjina in n opsetlike verspreiding van die virus omdat Rusland geen gevalle het nie?

SomeOne ·

gee maar kans, suidelike afrika se gevalle gaan met dieselfde gebeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.