Covid-19-samevatting: Honderde ontsnap uit isolasiesentrums in Malawi, Zimbabwe

Argieffoto (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ongeveer 400 persone het uit ʼn koronavirus-isolasiesentrum in Malawi ontsnap wat die risiko verhoog dat hulle die virus in die land kan versprei.

ʼn Man, wat uit die sentrum by die Kamuzu-stadion gevlug het, het Donderdag aan die dpa-nuusagentskap gesê die persone ontsnap weens ʼn gebrek aan sanitasie en skoon toilette. Persone word glo al langer as 24 uur by die stadion aangehou sonder toegang tot kos of water, aldus die man, wat anoniem wou bly.

Die regering het Malawiërs, wat onlangs van buurlande teruggekeer het, versoek om by die stadion getoets te word vir Covid-19, het dr. John Kawalazira, distriksgeneesheer vir Blantyre, tydens ʼn perskonferensie gesê. Alle landsgrense, buiten drie, is gesluit om die vervoer van noodsaaklike goedere en dienste toe te laat.

James Kadadzera, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê beamptes ondersoek die voorval.

Minstens 108 gevalle van Covid-19 en vier sterftes is tot dusver in die land aangemeld.

Zimbabwe

Johannesburg (13 April 2020) (Foto: Jerome Delay/AP)

Paul Nyathi, woordvoerder van die polisie in Zimbabwe, het gesê beamptes is ook op soek na meer as 100 persone wat uit isolasiesentrums ontsnap het. ʼn Kwarantynperiode van 21 dae is verpligtend vir enigiemand wat van ander lande terugkeer.

“Hulle ontsnap en vlug in die dorpe in. Ons waarsku mense om nie aan hulle skuiling te verskaf nie. Hierdie persone is ʼn ernstige gevaar vir gemeenskappe,” het Nyathi gesê.

Sowat al 75 van die nuwe gevalle wat vandeesweek in Zimbabwe aangemeld is, was persone in sentrums waar honderde persone aangehou is wat van Suid-Afrika en Botswana teruggekeer het.

Minister Monica Mutsvangwa het Woensdag aan verslaggewers gesê die regering verskerp sekuriteit by skole, kolleges en hotelle wat as kwarantynfasiliteite aangewend word. Nick Mangwana, woordvoerder van die regering, het egter gesê veiligheidsbeamptes by die sentrums, wat met hoë mure en lemmetjiesdraad beskerm word, ontvang vermoedelik omkoopgeld van mense wat die sentrum vroeër wil verlaat.

Oostenryk gaan kunstenaars €1 000 per maand betaal

Argieffoto (Foto: Jürgen Sieber/Pixabay)

Onafhanklike kunstenaars in Oostenryk kom in aanmerking vir ʼn maandelikse toelaag van €1 000 (sowat R19 000) om hul lewensbestaan in die huidige krisis te beskerm, het die regering Donderdag aangekondig. Dit is in reaksie op druk van die kulturele bedryf.

Die regering het ʼn €90 miljoen-fonds gestig om sowat 15 000 kunstenaars tydens die tweede helfte van die jaar te help.

“Ons besef dat die ontwrigting [op die kunstebedryf] langer as een of twee maande gaan voortduur,” het Werner Kogler, minister van kultuur en visekanselier, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Gernot Bluemel, die minister van finansies, het Woensdag aangekondig hy het €25 miljoen geoormerk om verliese te dek van filmproduksies wat opgeskort is.

Suid-Korea stel weer beperkings in

Werkers spuit ontsmettingsmiddel voor MADE, ‘n groot klub in Seoel, Suid-Korea (12 Mei 2020) (Foto: Lim Hun-jung/Yonhap via AP)

Strenger afsonderingsmaatreëls word weer in Suid-Korea ingestel ná ʼn beduidende toename in koronavirus-infeksies aangemeld is, het die land se minister van gesondheid Donderdag gesê.

Openbare instansies, soos museums en teaters, sal dadelik gesluit word tot 14 Junie, het Park Neung Hoo gesê. “Die volgende twee weke is kritiek.”

Suid-Korea het reeds begin om beperkings op te hef om die verspreiding van die virus te bekamp. Owerhede is egter in kennis gestel van ʼn nuwe groep infeksies, dié keer in ʼn verspreidingsentrum van ʼn aanlyn bestellingsmaatskappy in Seoel. Meer as 80 gevalle is teen Donderdagoggend onder personeellede, en diegene met wie hulle in kontak was, aangemeld. Meer as 4 000 persone is getoets.

Park het gesê die uitbreking het waarskynlik reeds na die gemeenskappe versprei. Hy versoek persone om byeenkomste oor die volgende twee weke so ver as moontlik te vermy. Die regering het egter nog nie oorweeg om weer die skole te sluit nie. Die skole het sedert verlede week weer geleidelik begin heropen.

Minstens 11 344 persone het reeds positief getoets in die land.

111-jarige vrou oorleef Covid-19 in Chili

Juana Zuniga (Foto: fp.vo)

ʼn 111-jarige vrou is die oudste persoon in Chili wat Covid-19 oorleef het, ná twee rondtes kwarantyn, het die Suid-Amerikaanse nasionale diens vir ouer persone (Senama), Woensdag gesê.

Juana Zuniga, wat in Julie haar 112de verjaarsdag vier, is een van 25 persone wat Covid-19 in ʼn tehuis in Santiago opgedoen het, het Senama in ʼn verklaring gesê. Sy bly al sedert 2014 in die tehuis en is in ʼn isolasiesaal geplaas waar sy 28 dae lank versorg is.

Maria Paz Sordo, direkteur van die tehuis, het gesê buiten asemhalingsprobleme, is Zuniga baie gesond. “Sy het positief getoets, maar was asimptomaties.”

Kwarantynmaatreëls geld tot minstens 5 Junie in die land. Altesaam 82 289 gevalle is reeds in Chili aangemeld. Die dodetal staan op 841.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rodger17 ·

Dit gaan al meer gebeur veral hier waar ons gevangenis in ons eie blyplek is en die regeringsamptenare kerjakker die land vol

Marisa W ·

Mens ontsnap mos net uit ‘n plek waar jy teen jou sin gehou word …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.