Covid-19-samevatting: Zambië het glo ook ʼn geneesmiddel, soos Madagaskar

(Foto: Andry Rajoelina/Facebook)

Madagaskar het sy eerste Covid-19-verwante sterfte aangemeld te midde van berigte dat ʼn kruiedrankie Covid-19 kan voorkom en kan genees.

Hanta Danielle Vololontiana, woordvoerder van die nasionale Covid-19-taakspan, het die sterfte Sondag deur aangemeld. Die slagoffer, ʼn 57-jarige mediese werker, het ook diabetes en hoëbloeddruk onder lede gehad en het Saterdagaand gesterf.

Madagaskar het tot dusver 304 positiewe gevalle van Covid-19 aangemeld.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het intussen herhaaldelik gewaarsku dat Covid Organics, wat volgens pres. Andry Rajoelina ʼn geneesmiddel is teen die koronavirus, nog nie klinies getoets is nie. Afrikalande soos Tanzanië, Kongo-Brazzaville, en Guinee-Bissau het reeds die kruiemiddel begin invoer.

“Covid Organics sal gratis versprei word aan ons mees kwesbare landgenote en teen ʼn baie lae prys aan ander verkoop word. Alle winste word aan die Malgassiese Instituut vir Toegepaste Navorsing geskenk,” het Rajoelina op Twitter gesê.

Volgens hom het 105 van Madagaskar se 171 koronavirus-pasiënte, wat reeds van die virus herstel het, slegs hul koronavirusmedisyne gedrink.

Covid Organics bevat als, ʼn plant wat op die Indiese Oseaan-eiland gekweek word.

Zambië het Covid-Z ontwikkel

Jerome Kanyika, president van die farmaseutiese vereniging van Zambië, en drie ander, voer aan hulle het ʼn geneesmiddel vir Covid-19 ontwikkel, het die ondersoekende nuuswebwerf Zambia Watchdog Maandag berig.

Volgens die publikasie het die land se raad van gesondheidsberoepe Kanyika ontbied ná sy onthulling dat hy en die drie ander persone ʼn geneesmiddel vir die koronavirus, genaamd Covid-Z, ontwikkel het.

Covid-Z is glo ontwikkel deur Kanyika, ʼn apteker, Moses Phiri, ʼn chemikus, Boniface Manda, ʼn fisikus, en Steve Mpaza, ʼn navorser in alternatiewe en kontemporêre medisyne.

Volgens Kanyika bevat die middel vyf kruie wat al jare lank vir medikasie gebruik word. “Die plante wat ons gebruik het, word gebruik om malaria, denguekoors (viraal), verkoue, asma, inflammasie en ander koorstipes te behandel,” het hy gesê. “Die plante wat gebruik word gee die immuniteitstelsel ʼn hupstoot, gee energie en aptyt.”

Hy het gesê die span het die regering skriftelik genader en wag op ʼn reaksie om die geneesmiddel te begin versprei.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Hoekom nie? Hoe het mense gemaak voor farmaseutiese maatskappye oor gevat het? Dis ‘n virus en benodig nie antibiotika nie. Ons voorouers sou lankal gesê het watter mengsel van veldkruie werk. Ek sal stem vir dit.

Co ·

Ek het lank in Oos, Wes en Sentraal Afrika gewerk en het gesien hoe die Moringa plant suksesvol gebruik word vir byna enigiets, veral malaria. eers gedink hierdie is toordokter medisyne maar die goed werk! Daar geleer om jouself gesond te hou deur gesond te eet en drink.

DieKriek ·

Ek was onder die indruk dat “onder lede gehad” beteken jy het nog nie simptome nie en ontwikkel eers die siekte. Hoe kan mens dan hoë bloeddruk onder lede hê? Dit beteken niemand weet nog daarvan nie. Maar Afrikaans is nie my eerste taal nie, so…

Sune van Heerden ·

Dagsê DieKriek
Dankie vir jou boodskap
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) bevestig om ‘n siekte “onder lede” te hê beteken om die kiem van ’n siekte in jou te dra. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) bevestig ook “onder lede” beteken dat jy begin siek word aan of aangesteek wees met iets.
Om te sê iemand het hoëbloeddruk (of enige ander chroniese siekte) “onder lede”, word algemeen in die media gebruik. Mens sou ook kon sê iemand “ly aan hoëbloeddruk”.
Vergelyk byvoorbeeld:
– “Van 2009 tot 2014 het die getal begunstigdes wat tegelyk drie chroniese VMV-toestande onder lede het, met meer as 50% gestyg.” (Netwerk24, Des. 2015)
– “Dit kan ook wees dat jou man dalk ’n chroniese siekte soos hoë bloeddruk of diabetes onder lede het.” (Netwerk24, Mrt 2018)
– “Van Rooyen het in sy navorsing getoon dat 78% van die swart bevolking volume hipertensie onder lede het, waarvan die meerderheid antirenien geneesmiddels ontvang.” (NWU, Sept. 2010)
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Niklaas ·

As jy nou baie baie ryk wil word , moet jy nou ‘n geskikte teenmiddel ontdek en suksesvolle toetsing laat ondergaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.