‘Crookie’: Franse gebakgier het TikTok op hol

Stephane Louvard, skepper van die crookie. (Foto: Thomas SAMSON / AFP)

Die eienaar van ʼn bakkery in Frankryk word deesdae oorval deur slimfoonswaaiende generasie Z’s nadat hulle die jongste gebakgier op TikTok gedeel het: die “crookie”. Ja, dit is ʼn croissant gevul met koekiedeeg.

Die crookie is in 2022 deur die Paryse fyngebaksjef Stephane Louvard van Maison Louvard in een van Parys se gesogte buurte geskep.

Dié gebak was egter aanvanklik “net iets vir gereelde klante”, vertel Louvard, totdat ʼn video op Instagram verkope tot tussen 150 en 200 per dag laat klim het.

Die video is op die Instagram-rekening “The Ultimate Guide”, wat in Parys-restaurante spesialiseer, gedeel.

En toe deel die TikTok-beïnvloeder Johan Papz vroeg verlede jaar ʼn video van homself terwyl hy ʼn smaaklike hap van een van Louvard se crookies neem – en die TikTokkers kom aangehardloop.

Maison Louvard se gewilde crookie. (Foto: Thomas SAMSON / AFP)

“Ons het honderde mense gehad wat gekom het. Die meeste van hulle was jong vroue tussen 18 en 25 jaar oud, slimfone in die hand om foto’s met ʼn crookie te neem,” vertel Louvard aan AFP in sy kombuis terwyl daar in die agtergrond met ʼn dolle vaart koekiedeeg in croissants ingewerk word.

Die ry voor Maison Louvard het intussen ook nog nie korter geword nie, vertel Louvard.

Tussen 1 000 en 1 600 crookies word nou per dag gebak en Louvard moes selfs twee ekstra werkers in sy bakkery aanstel.

Een crookie gaan jou €5,90 kos; in Suid-Afrikaanse terme ʼn allemintige R120.

Louvard is natuurlik baie bly, maar ook ietwat verward, oor die gier.

“Ek bedoel, dit is ʼn bietjie waansinnig,” erken hy.

“Een of ander tyd moet dit einde kry. Dis net ʼn koekie in ʼn croissant, dit is nie een of ander rewolusionêre uitvinding nie.”

Danksy TikTok word die crookie deesdae ook in Brussel, New York, Tel Aviv en Singapoer gebak.

Maison Louvard se gewilde crookie. (Foto: Thomas SAMSON / AFP)

Louvard het egter geen planne om sy gebak te patenteer nie.

“Waarvoor? Om myself met die helfte van die planeet in die hof te bevind?”

Dit is nie die eerste gebakgier wat sosialemediagebruikers aan die gons het nie.

In 2013 het New Yorkers op die sypaadjie buite Dominique Ansel se bakkery geslaap nadat hy met die cronut vorendag gekom het: helfte croissant, helfte oliebol.

En in 2022 het die New York Roll, ʼn mengsel van croissant en bombolone (ʼn Italiaanse gebak), vir honderde miljoene trefslae op TikTok gesorg.

@johanpapz

le crookie samère ????

♬ son original – JohanPapz

@lolacg

un CROISSANT COOKIE ???? thanks jojo @JohanPapz pour l’adresse ???? LES PRIX ???????? • sur place : 7.1€ • à emporter : 5.9€ ????Maison Louvard – Paris 9 ⭐️4,4/5 sur 519 avis Google #gouterparis #croissant #cookie

♬ Ghibli-style nostalgic waltz – MaSssuguMusic

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.