Dié behandeling vir osteoartritis dalk skadelik – navorsing

Argieffoto: Pixabay

ʼn Inspuiting wat gereeld gebruik word om osteoartritis in die knie mee te behandel is “skaars meer as ʼn opkikker” en kan selfs skadelike newe-effekte hê. Só lui die bevindings van nuwe navorsing oor die inspuit van hialuronidase-suur om dié siektetoestand te behandel.

Dié behandeling, algemeen bekend as viskose-aanvulling, word sedert 1970 uitgevoer, maar navorsers is toenemend skepties oor die effektiwiteit en veiligheid hiervan.

Luidens die navorsing is osteoartritis in die knie een van die grootste oorsake van gestremdheid by ouer mense en meer as 560 miljoen mense wêreldwyd ly hieraan. Dit veroorsaak die verbrokkeling van die kraakbeen in die knie, wat geweldige pyn en ʼn gesukkel om te loop tot gevolg het.

Viskose-aanvulling word algemeen gebruik as ʼn smeermiddel om beweging te vergemaklik en pyn te verminder.

Die navorsingsverslag wat in die vaktydskrif BMJ gepubliseer is, het na 169 vorige ondersoeke gekyk wat die inspuiting met ʼn opkikker of geen behandeling vergelyk het. Hieruit is 24 groot ondersoeke, wat 9 000 pasiënte betrek het, gekies. “Navorsers het sterk en deurslaggewende bewyse gevind dat die inspuiting amper geen verskil in pynvlakke tot gevolg het nie,” lui die verslag. Navorsers het boonop gevind dat die inspuiting in sekere gevalle skadelike newe-effekte gehad het en dat dit nie net oneffektief is nie, maar geassosieer word met “ʼn hoër voorkoms van nagevolge”. Een van die mees algemene newe-effekte van die inspuiting blyk te wees ʼn infeksie in die gewrigte nadat die inspuiting toegedien is.

Die navorsing wys verder daarop dat meer as 12 000 mense tussen 2009 en 2021 reeds onnodig aan die behandeling blootgestel is, aangesien soortgelyke navorsingsgevolgtrekkings toe reeds bekend was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Baie dokters reageer woedend as pasiënte hul wys op navorsing wat hul voorskrifte opponeer. Medici kan gerus soms wegbreek van hul jarelange gebruiklike penstrepe en oplees oor die nagevolge van hul voorliefdes. Soms skryf dokters in SA middels voor wat reeds elders in wêreld verbied is en waar groot geld aan eise reeds instroom. Covid-entstowwe was twee jaar gelede manna van seën maar nou toon navorsing vele gebreke.

Yvonne ·

Jip ek is maar redelik sienies oor van dokters se behandelings

Schalk ·

Ek neem aan in die algemene behandeling is daar seker ‘n mate van sukses. Ek het die aanvulling inspuiting gekry en tesame met fisio omtrent geen tot enige las van my kniepyn. Amper oornag verdwyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.