Dodetal weens Filippynse tifoon styg skerp

‘n Foto van die Filippynse kuswag wys die omvang van die skade wat in sommige gebiede aangerig is. (Foto: PCG/AFP)

Meer as 80 mense is nou reeds dood in die kragtigste tifoon nóg wat die Filippyne vanjaar getref het. Dít terwyl nooddienswerkers spook om water en kos by slagoffers op die verwoeste eiland uit te kry.

Meer as 300 000 mense het reeds uit hul huise en strandoorde gevlug terwyl tifoon Rai die suidelike en sentrale streke van die eilandgroep verniel het.

Die storm het kommunikasie ontwrig en kragtoevoer onderbreek, terwyl dakke afgeruk, sementstrukture omgeruk en dorpies oorstroom is.

Arthur Yap, goewerneur van die gewilde toerismebestemming Bohol, het op sy amptelike Twitter-blad geskryf burgemeesters van die verwoeste eilande het tot dusver 63 sterftes in hul onderskeie dorpe aangemeld. Dit het die algehele dodetal volgens die jongste beskikbare syfers op 89 te staan gebring.

Die getal sterftes sal na verwagting selfs verder styg terwyl rampagentskappe die volle omvang van die verwoesting op die uitgestrekte landskap probeer bepaal.

Rai, wat geklassifiseer is as ʼn supertifoon, het die land Donderdag met windsnelhede van tot 195 km/h getref.

Duisende weermaglede, polisiebeamptes, lede van die kuswag en brandsbestryders is gestuur om te help met soek-en-reddingspogings in die gebiede wat die ergste geraak is.

Skepe van die vloot en die kuswag met kos, water en mediese voorraad word uitgestuur, terwyl swaar masjinerie gestuur word om te help om paaie wat versper word deur kragpale en bome wat omgewaai is, skoon te maak.

Welsynsgroepe en nooddienste het intussen gepleit vir skenkings.

Daar was ook wydverspreide verwoesting op die eilande Siargao, Dinagat en Mindanao waar Rai aanvanklik die Filippyne getref het.

Talle toeriste is Sondag nog uit die gebied geneem en die nadraai herinner aan die verwoesting – moontlik selfs erger – wat supertifoon Haiyan in 2013 veroorsaak het.

Haiyan, wat in die Filippyne as Yolanda bekendgestaan het, was die land se dodelikste tifoon tot dusver en het meer as 7 300 mense dood of vermis gelaat.

‘n Vrou hang haar klere op aan die oorblyfsels van wat eens ‘n huis in Del Carmen in die Filippyne was. Tifoon Rai het reuseskade aangerig. (Foto: PCG/AFP)

Rai het die afgelope naweek teen ʼn snelheid van sowat 150 km/h deur die land gewoed. Dit het swaar reën veroorsaak, bome ontwortel en houtstrukture verwoes.

Rai het die Filippyne betreklik laat in die tifoonseisoen getref – die meeste tifone ontwikkel gewoonlik tussen Julie en Oktober.

Wetenskaplikes waarsku lank reeds dat tifone al hoe kragtiger word en al hoe vinniger in omvang toeneem terwyl die wêreld weens mensgedrewe klimaatsverandering al hoe warmer word.

Die Filippyne, een van die wêreld se kwesbaarste lande wat betref die uitwerking van klimaatsverandering, word jaarliks deur gemiddeld 20 storms en tifone getref. Die verwoes oes, huise en infrastruktuur in reeds verarmde gebiede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Ek kan my indink dat so ‘n angswekkende trauma onbeskryflike pyn meebring. Sterkte vir die mense wat aĺles verloor het. Hoe kom jy ooit weer op jou voete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.