Doodsvonnis vir 18 oor dwelmhandel in Viëtnam

Beskuldigdes (links in blou) tydens hul hofsaak (Foto: Vietnam News Agency/AFP)

Twee Suid-Koreane is onder 18 mense wat in Viëtnam ter dood veroordeel is op aanklag van dwelmhandel.

Die kommunistiese land het van die strengste dwelmwette ter wêreld en is berug vir sy geheimhouding oor teregstellings.

Die Suid-Koreaanse oudpolisieman Kim Soon-sik (63) en sy landgenoot Kang Seon-hok (30) is ter dood veroordeel ná ʼn vier dag lange hofsaak in Ho Chi Minh-stad, het staatsmedia Saterdag gesê.

Die Chinese burger Li Tian Guan (58) en vermeende Viëtnamese voorbok Le Ho Vu (36) is ook ter dood veroordeel.

Veertien ander mense is ook doodsvonnisse opgelê in verband met die saak in die gesin- en kinderhof. Die groep het tussen Mei en Junie 2020 “meer as 216 kg dwelms onwettig gestoor, vervoer en daarmee handel gedryf”, het staatsmedia Cong an Nhan dan berig.

Meer as 168 kg van “allerhande tipe dwelmmiddels” is gekonfiskeer.

Van die dwelms wat van Kambodja na Ho Chi Minh vervoer is, aldus Vu, is “plaaslik verbruik” terwyl ander na Suid-Korea uitgevoer is, aldus Cong an Nhan dan.

Beamptes het op 19 Julie die sindikaat oopgevlek toe ʼn vragmotor in Ho Chi Minh deursoek is wat ʼn doeaneverklaring vir verskeping na Suid-Korea moes voltooi.

Veertig plastieksakkies met wit kristalle, met ʼn totaal van 39,5 kg metamfetamien is in die vragmotor gevind.

Staatsmedia berig Vu is skuldig bevind op aanklag van die “onwettige vervoer van dwelmmiddels” en “die gebruik van vervalste seëls of dokumente of organisasies”.

Die ander 17 mense is skuldig bevind op die onwettige besit van dwelmmiddels, onwettige handeldryf met dwelmmiddels, onwettige vervoer van delmmiddels en die organisering van die onwettige verbruik van dwelmmiddels.

Drie beskuldigdes is lewenslange tronkstraf opgelê vir die onwettige vervoer van dwelmmiddels, berig Cong an Nhan dan. Een persoon, jonger as 18 jaar oud, is 15 jaar tronkstraf opgelê.

Dit is nog nie bekend wanneer die teregstellings sal plaasvind nie.

Howe in Viëtnam lê gereeld doodsvonnisse op vir dwelmoortredings en die land is wêreldwyd die voorloper in teregstellings, aldus Amnesty International. Enigiemand wat met meer as 600 g heroïen of meer as 2,5 kg metamfetamien betrap word, kan doodstraf opgelê word.

Verslag deur Amnesty International in 2021 het gesê gedeeltelike bekendmaking deur owerhede “dui daarop dat honderde mense jaarliks die doodsvonnis opgelê word”. Meer as 100 mense is verlede jaar in Viëtnam die doodstraf opgelê aldus die internasionale nieregeringsorganisasie Death Penalty Information Center.

Sedert 2013 word teregstellings in Viëtnam deur dodelike inspuiting uitgevoer toe dit vuurpelotonne vervang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PersHeks ·

Dis mos nou hoe dit gedoen moet word!! Wens die vonnisse in ons stukkende land wil ook so wees!!

Niklaas ·

Laat die wereld kennis neem hiervan, want dis een groot afskrikmiddel . Jammer die regstelsel in SA is meer lamsakkerig oor hierdie misdaad.

christo ·

Dis die enigste afskrikmiddel wat werk. Gewone tronkstraf in SA vir dwelmsmokkelaars en smouse is ‘n grap.

Vriendelike Frikkie ·

Ek het gemengde gevoelens. Moet hulle nie juis die soort mense los nie? Tot ‘n groot mate los die probleem homself op. Maak dwelms goedkoper. Vinniger verlaging in die hoeveelheid verslaafdes. Minder verslaafdes beteken minder misdaad. Minder misdaad beteken veiliger buurte. Of mis ek iets?

Martie Smartie ·

Jy mis beslis heelwat. Nie net is dit oneties en internasionaal onaanvaarbaar om die verspreiding van dwelms toe te laat nie, dwelmmisbruik veroorsaak reuse maatskaplike onkostes vir regerings. Sindikate word ryker en magtiger en brei korrupte netwerke uit, soveel so dat hulle regerings omkoop en gemeenskappe beheer. Wapens word aangekoop en wpan handel floreer. Geldwassery floreer uit dwelmhandel. Groter beskikbaarheid van dwelms kan dalk die pryse afbring maar dit gaan baie meer sosiale probleme veroorsaak. Die benadering v Vietnam is al wat werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.