Duisende vlug voor ‘yslike brand’ in Bangladesj

Verplaaste Rohingia-mense in die Rakhine-deelstaat, Mianmar (Foto: Foreign and Commonwealth Office – Flickr via Wikimedia Commons)

Minstens 20 000 inwoners moes vlug toe ʼn geweldige brand tussen plakkershuise in vlugtelingkampe in die suide van Bangladesj uitgebreek het. Dit is die derde brand wat dié nedersettings in vier dae tref.

Nagenoeg 1 miljoen Rohingia, die Moslem-minderheid van Mianmar, woon in beknopte, goor toestande by die kampe in die Cox’s Bazar-distrik. Talle het in 2017 tydens ʼn weermag-staatsgreep uit hul land gevlug.

Beamptes het gesê die brand het vermoedelik in een van die 34 kampe uitgebreek voor dit na die ander twee kampe versprei het.

Honderde brandbestryders en nooddienswerkers is op die toneel en probeer om die vlugtelinge na veiligheid te bring.

“Dit is ʼn yslike groot brand. Minstens 20 000 mense moes uit hul huise vlug toe die brand versprei het,” het Mamunur Rashid, administrateur van Cox’s Bazar, aan AFP gesê. “Ons blus die brand op een plek en dan versprei dit na ander plekke.”

Volgens Rashid is daar tot dusver nog nie enige berigte van beserings of sterftes nie.

Argieffoto van ‘n afgebrande Rohingia-dorpie in die deelstaat Rakhine in Mianmar (Foto: Zlatica Hoke (VOA) – skermskoot van ‘n video deur Voice of America via Wikimedia Commons)

Beamptes het aan AFP gesê die voorlopige ondersoek het bevind dat meer as 900 plakkershuise – die tuiste van sowat 7 400 vlugtelinge, is in die brand verwoes en die brand woed voort.

Mohammad Yasin, ʼn Rohingia wat met brandbestryding help, het aan AFP gesê die brand woed steeds agt ure ná dit begin het en dit is die ergste wat hy sedert 2017 gesien het.

ʼn Vrywilliger van Save The Children, Tayeba Begum, het gesê “mense het geskree en rondgehardloop en kinders het ook rondgehardloop en vir hulle gesinne gehuil”.

Dit is die derde brand wat in vier dae in die kampe uitbreek, het ʼn beampte van die brandweer, Sikder, wat slegs een naam het, aan AFP gesê.

Twee afsonderlike brande by die kampe Vrydag het ook talle plakkershuise verwoes. Sikder sê die oorsaak van die brande is nog nie bekend nie.

Twee groot brande het ook in Januarie in die kampe uitgebreek. Duisende is haweloos gelaat en vier Unicef-skole is afgebrand.

Saad Hammadi, ʼn veldtogbeampte van Amnesty International in Suid-Asië, het op Twitter gesê die gereeldheid van die brande is “te toevallig”, “veral wanneer die uitslag van vorige ondersoeke nog nie bekend is nie en dit herhaaldelik gebeur”.

Die regering maan intussen die vlugtelinge om na ʼn afgeleë eiland in die Golf van Bengale te skuif, omdat die kampe te oorbevolk is.

Sowat 13 000 Rohingia is reeds na die eiland, wat gereeld vloede beleef, geskuif. Kritici waarsku egter die eiland is geleë in ʼn gebied waar siklone gereeld voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.