Duitse boere betoog steeds

(Foto: John Macdougall /AFP)

Meer as 5 000 woedende boere het Maandag opnuut met toetende trekkers op Berlyn se strate toegesak en luidkeels ʼn minister van die regering uitgejou oor die Duitse regering se planne om landbousubsidies te besnoei.

Maroela Media het vroeër berig duisende boere betoog sedert verlede maand oor die beplande besnoeiing van landbousubsidies, ʼn stap wat reeds tot verskeie verlammende stakings landwyd aanleiding gegee het en die land dieper in onrus gedompel het.

Die minister van finansies, Christian Lindner, het ʼn sterk verdediging van die regering se voorstelle by die betoging gestel en daarop aangedring dat dit gaan oor “hoe ons saam uit ʼn moeilike situasie kan kom”.

Maar hy is afgejak toe hy die podium betree het, met betogers wat hom as ʼn “leuenaar” bestempel het en gevra het dat die regering moet bedank.

“Die regering moet bedank. Hulle is nie meer in staat om ons te lei nie,” het Paul Brzezinski (73), ʼn melkboer suidoos van Berlyn, aan AFP gesê.

Volgens die Duitse Boerevereniging (DBV) het ongeveer 100 000 trekkers in die loop van die betogings die strate ingevaar.

Die betogings het die regering aangespoor om gedeeltelik terug te staan op besnoeiings, en het onderneem om ʼn afslag op voertuigbelasting te herstel en om ʼn dieselsubsidie ​​oor etlike jare uit te faseer in plaas van onmiddellik.

Maar boere sê dis nie genoeg nie en het ʼn beroep op die Berlynse regering gedoen om die planne heeltemal om te keer.

“Dit gaan nie net oor die mees onlangse besnoeiings nie. Dit was bloot die strooi wat die kameel se rug gebreek het,” het Hendrik Pferdmenges (45), ʼn saaiboer van Hanover, gesê.

“Ons het die afgelope jare te veel subsidies verloor, en daar is soveel regulering en burokrasie dat ons een of ander tyd nie meer sal kan klaarkom nie,” het hy gesê.

“As ek in een woord moet beskryf hoekom ek hier is, dan sou dit ‘toekoms’ wees,” het Henrike Boerstling (26), ’n saaiboer van Nedersakse, gesê.

“Ek wil hê my kinders moet eendag boere kan word. Ek wil die plaas by my pa kan oorneem. Ek wil dit behoorlik kan bestuur en in my besigheid kan belê,” het sy gesê.

Sommige betogers is Maandag in hegtenis omdat hulle vuurwerk afgevuur het, het die polisie gesê.

Nadat hulle met verteenwoordigers van die boere vergader het, het senior partyfigure van die koalisieregering ʼn nuwe pakket maatreëls voorgestel om die sektor in die toekoms te help.

Joachim Rukwied, die DBV-leier, het nietemin gesê boere sal aanhou veg vir die dieselsubsidie ​​“as ʼn kwessie van prioriteit… En dan kan ons oor ander onderwerpe praat”.

Die boere se betogings kom op ʼn tydstip dat goedkeuringsgraderings vir kanselier Olaf Scholz se ongemaklike drierigting-koalisie op ʼn allemintige laagtepunt is.

In ʼn onlangse peiling vir die dagblad Bild het 64% van die Duitsers gesê dat hulle graag ʼn regeringsverandering wil sien.

Werkers uit verskeie sektore, van metallurgie en vervoer tot onderwys, het die afgelope weke betogings gehou te midde van sukkelende ekonomiese groei en stygende pryse.

Amptelike data het Maandag getoon dat die Duitse ekonomie in 2023 met 0,3 persent gekrimp het, aangesien duur energie, hoë rentekoerse en afkoelende buitelandse vraag hul tol geëis het.

Die boerebyeenkomste het ook verregse betogers gelok, wat vrese laat ontstaan ​​het dat ekstremiste die protesbeweging probeer uitbuit.

Die Duitse handbalfederasie het Maandag om verskoning gevra nadat Scholz tydens Duitsland se Europese kampioenskapwedstryd teen Noord-Masedonië uitgejou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Yolandie ·

Die boerebyeenkomste het ook verregse betogers gelok, wat vrese laat ontstaan ​​het dat ekstremiste die protesbeweging probeer uitbuit.
Welgedaan vir die boere van Duitsland sowel as Nederland wat opstaan. Snaaks hoe die “verregse” term gebruik word of “ekstremiste” as die stomme boer tog net ‘n bestaan wil maak. Hierdie tiepe beriggewing is onsin. As mens net ‘n bietjie baklei vir jou geloof, taal en bestaansreg dan is jy ‘n verregse ekstremis. Die hel is los reg oor die wereld, wag maar en sien…….die poppe gaan nog dans.

ES ·

Dis net jammer dat as ons boere besluit om so te betoog, hulle met geweld tegemoet sal kom. Want ons regering dien ons nie op enige wyse nie, ons moet hulle dien deur hulle sakke vol geld te maak. Ons moet hulle maar dmv die stembussie aanvat.

Nommer 7 ·

@ES, dit is nie waar dat ons regering nie die boere dien nie. Die mees enkele redes wat SA boere op plase hou, is die ANC regering se beleide van invoerbelasting op voedsel, en geen beperking op voedsel uitvoere nie.

Gaitsigubib ·

Natuurlik is daar fooie op voedsel uitvoere, waar kom jy daaraan dat daar geen beperking is nie? Jy leef in een of ander parallelle wereld. Volgens jou dien die regering Boere, maar hulle belowe om ons grond te vat sonder vergoeding. Jy weet hulle dien slegs swart mense (En ook net die in die ANC) maar wil seker kyk of iemand met jou wil argumenteer. Jy weet dat Maljan se muil se naam was Nommer 7? Is dit waar jy jou naam kry?

Nommer 7 ·

@Gaitsigubib, daar is geen beperkings op uitvoere nie. ‘n Produsent kan 100% van sy produk uitvoer, en sodoende bydrae tot die risiko van voedsel sekerheid in SA. Tans word 50% van landbou produkte uitgevoer, en verhoog elke jaar. Wat gaan gebeur indien dit 100% raak? Dalk onwaarskynlik, maar teoreties moontlik.

Gaitsigubib ·

Jy betaal n Levy op elke boksie wat jy uitvoer, ook hawefooie en belastings. Jy betaal per kilogram op n glyskaal. Die voedsel tekorte in die land is omdat daar in 1980 100000 boere was wat hulp van die staat ontvang het en nou net 46000 wat niks van die regering ontvang nie (behalwe dreigemente). Die gevolg van die “vrye mark” wat jou regering gesoek het en die feit dat boere die bedryf daagliks verlaat omdat dit te gevaarlik is veroorsaak steeds nie werklik tekorte nie, maar die onbekostigbaarheid van kos a.g.v inflasie deur n swak en kriminele regering, maak dat mense nie kos kan bekostig nie. Die grootse probleem van alles is egter die leuns wat daagliks vertel word wat boere in n swak lig stel. Dat boere steeds hoegenaamd oorleef is n testament van hul karakter!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.