Woedende Duitse boere terug strate toe

(Foto: Jens Schlueter/AFP)

Woedende boere het Maandag weer die strate van Berlyn ingevaar oor die Duitse regering se planne om landbousubsidies te besnoei.

Die boere het trekkers gebruik om paaie landwyd te versper en mis op die strate uit te gooi.

Duisende boere betoog sedert verlede maand oor die beplande besnoeiing van landbousubsidies, ʼn stap wat reeds tot verskeie verlammende stakings landwyd aanleiding gegee het en die land dieper in onrus gedompel het.

Die ontwrigtings wat dit veroorsaak het, het die regering reeds genoop om sommige van sy planne te laat vaar.

Kanselier Olaf Scholz se woordvoerder, Steffen Hebestreit, het verlede week gesê ʼn korting op voertuigbelasting vir landboumasjinerie sal volgehou word en belastingkorting op brandstof vir dieselfde voertuie sal ook nie heeltemal opgeskort word nie, maar gaandeweg verminder word.

(Foto: Jens Schlueter/AFP)

Mense in die landbousektor het egter Maandag volgehou dat die aanpassings “nie ver genoeg gaan nie” en die regering aangemoedig om “die planne heeltemal om te keer”.

“Ons kan doodeenvoudig nie so voortgaan nie. Die landbousektor gaan ineenstort,” het ʼn 34-jarige boer gesê.

Dieselfde boer sê hy was woedend toe hy van die besnoeiings gehoor het, veral omdat huishoudings maande lank onder hoë inflasie deurgeloop het.

“Hulle moet dink oor die gevolge hiervan. Die prys van kos gaan styg. Alles gaan duurder word,” het hy gesê.

(Foto: Jens Schlueter/AFP)

Die strate van groot stede soos Berlyn, Hamburg, Keulen en Bremen is elk met minstens 2 000 trekkers versper.

Buite die stede het betogers opritte geteiken en verkeer in ʼn “gekoördineerde landwye vertoning van ontevredenheid” versper.

Die polisie het versperrings en groot ontwrigtings weens stadigbewegende trekkerkonvooie van die vroeë oggendure regoor Duitsland aangemeld. Owerhede in die noordelike staat Mecklenburg-Vorpommern het gesê al sy Autobahn-opritte is ook versper.

Die betoging het ook ontwrigtings by Duitsland se grense met Frankryk, Pole en die Tsjeggiese Republiek veroorsaak.

Politici het die betogings veroordeel weens die onderliggende dreigement van geweld.

(Foto: Michaela Rehle/AFP)

Nog betogings

Die Duitse regering sal hom egter moet staal vir nog betogings deur ontevrede werkers.

Spoorwegwerkers begin Woensdag met ʼn staking van drie dae, met vakbonde wat ʼn salarisverhoging eis om te vergoed vir maande lange hoë inflasie.

Werkers in sektore regoor Duitsland, van metallurgie en vervoer tot onderwys, het die afgelope weke ook betoog.

Onderhandelinge oor loonverhogings het egter nie sukses opgelewer nie aangesien Europa se grootste ekonomie met swak groei sukkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

En hier teken ons petisies en handhaaf die morele hoëgrond.

Johann ·

Nee wat. Die Duitsers moet hier kom leer van betoog. Of moet die “demanders” daar gaan leer?

Gert ·

Indien ons dit hier doen sal dit nogsteeds dieselfde lyk en ruik. Die regering mag selfs meer tuis voel.

Ludwig Christian ·

Onder andere….. die mark/handel bied 3,50 Euro per 100 kg aan.
Die oes en sortering van 2 ton Aartappels per uur word gedoen deur 7 personeel en 2 masjiene. Die Aartappels is aangeplant sonder enige plant beskermingsmiddels (gif stof) en met “groen” stroke tussenin- dus minder as standaard oppervlakte.
Die mark sou 70 Euro betaal vir 2 ton. Die boer besluit toe om die aartappels direk aan die verbruiker te verķoop – elke koper betaal net dit wat hy/sy bereid is om te betaal- so kry die boer ten minste meer as wat die handel aanbied.
Die minimum loon in duitse landbou is 12 Euro per uur- dus 84 Euro vir 2 ton oes en sortering. Sonder die masjien en insetkostes betaal die boer reeds 14 Euro in op die “transaksie”

Jessey ·

Sjoe Ludwig, ek glo darem nie, jy werk op ‘n prys van R 7.35 per 10kg aartappels, miskien in 1995, ek sou eerder se jou syfer moet wees 35 Euro per 100Kg, geen boer sal werk vir daai tipe geld nerens in die wereld nie. Ek sou die bedrag veel nader sit aan tussen 25 en 35 Euro per 100Kg, dit klink meer realisties

Danie ·

Tans is the prys per ton aartappels R8515 (ek is nie seker of dit is wat die boer kry en of dit die groothandel prys is wat jy by die mark betaal nie). Of R8.515 per kilogram. Dit werk dus +/- R59.61 vir ‘n 7 kilogram sak aartappels uit.
Ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n 10 kilogram sak aartappels in ‘n winkel gesien het nie. Oral was ek koop (Checkers, Pick ‘n Pay, Shoprite, Spar) is daar net 7 kilogram sakke. Tans wissel die pryse tussen R85 en R115 per sak (7kg). Dus tussen 42% en 92% verskil tussen groothandel en kleinhandel prys.

George ·

@Danie, die 10kg kry jy vir heelwat goedkoper by groente winkels, selfs by foodlovers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.