Een dood, sewe vermis ná Japanse militêre heli’s glo bots

‘n Argieffoto van een van die Japanese maritieme selfverdedigingsmag se SH-60K-helikopters. (Foto: TOSHIFUMI KITAMURA / AFP)

Een persoon is dood en sewe word vermis nadat twee Japanse militêre helikopters Saterdagnag vermoedelik gebots en in die see gestort het.

Minoru Kihara, die Japanse minister van verdediging, sê reddingswerkers het intussen “iets wat vermoedelik deel van ʼn helikopter is in die see opgemerk en ons glo dat die twee helikopters neergestort het”.

“In hierdie stadium is die oorsaak onbekend en doen ons eers alles in ons vermoë om lewens te red,” het Kihara Sondag aan verslaggewers gesê. Hy het bygevoeg dat een persoon ná die ongeluk gered maar later dood is.

Hy het ook gesê dat die ministerie “die vlugopnemers op plekke naby aan mekaar ontdek het” en dus “is die moontlikheid groot dat (die twee helikopters) gebots het”.

Dit wil in hierdie stadium voorkom of die helikopters verlede nag tydens ʼn patrollie om duikbootbedrywighede te monitor aan die kus van die Izu-eilande in die Stille Oseaan neergestort het..

Teen 22:38 het die weermag kommunikasie met een helikopter verloor. ʼn Minuut later is ʼn noodsein van hierdie helikopter ontvang.

Nog 25 minute later, omstreeks 23:04, het die weermag besef dat kommunikasie met die ander helikopter ook in dieselfde gebied verloor is.

Stafhoof Ryo Sakai van die maritieme selfverdedigingsmag (MSDF) het vanoggend aan verslaggewers gesê die vlugopnemers word nou ontleed terwyl amptenare onderhoude voer met die bemanning van ʼn derde helikopter wat by die oefening aangesluit het, maar nie by die ongeluk betrokke was nie.

Die MSDF het gesê aangesien daar geen ander vliegtuie of vaartuie in nabygeleë waters was nie, is die betrokkenheid van ʼn ander land by die voorval onwaarskynlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.