Een dood, twee beseer toe 12-jarige by Finse skool losbrand

(Foto: Markku Ulander/Lehtikuva /AFP)

ʼn Gr. 6-leerder is Dinsdag by ʼn skool in Vantaa, Finland se vierde grootste stad, dood toe ʼn gewapende 12-jarige leerder glo uit die bloute op sy klasmaats losgebrand het. Nog twee leerders is ernstig beseer.

Ilkka Koskimaki, hoof van die Oos-Uusimaa-polisie, het op ʼn mediakonferensie gesê die voorval het omstreeks 09:00 by die Viertola-skool plaasgevind. Die 12-jarige verdagte is kort daarna in Helsinki in hegtenis geneem waarna die polisie ʼn ondersoek begin het.

ʼn Omstander het aan die plaaslike koerant Iltalehti gesê dat die skote oor die ganse skoolterrein weerklink het. “Ek het eers nie geweet ​​dat dit vuurwapenskote is nie. Toe hoor ek skielik ʼn angswekkende gil, waarna talle kinders histeries oor die skoolterrein gehardloop het.”

Beeldmateriaal van die toneel wys die groot aantal polisiebeamptes wat by die skool byeen is.

Die polisie het intussen gesê die verdagte wat in besit van ʼn vuurwapen was, is later op ʼn “kalm wyse” in hegtenis geneem.

Iltalehti het ʼn video gepubliseer wat ʼn verbygaande motoris geneem het wat wys hoe twee polisiebeamptes die 12-jarige kind langs ʼn pad in ʼn woongebied vastrek. Die polisie het mense versoek om die gebied te vermy en eerder binnenshuis te bly.

“Moenie die deur vir vreemdelinge oopmaak nie,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Volgens ʼn AFP-verslaggewer het die polisie ouers wat buite die skool gewag het, net ná die middaguur op die skoolterrein toegelaat om hul kinders te sien.

Mari Rantanen, die Finse minister van binnelandse sake, het gesê “die dag het op ʼn skokkende manier begin”.

“Ek kan nie die pyn, verdriet en kommer indink wat soveel gesinne nou moet deurgaan nie,” het sy op X geskryf.

Petteri Orpo, die Finse eerste minister, sê hy is “diep geskok” en sy gedagtes is by die slagoffers en hul familielede, sowel as die ander leerders en personeel.

Twee skokkende skoolskietvoorvalle het in die vroeë 2000’s in Finland plaasgevind. In November 2007 het ʼn 18-jarige gewapende seun by ʼn hoërskool in Jokela, sowat 50 km noord van Helsinki, losgebrand en die skoolhoof en ʼn verpleegster saam met ses leerders doodgeskiet voordat hy homself ook om die lewe gebring het.

ʼn Jaar later, in September 2008, het die 22-jarige Matti Juhani Saari 11 mense by ʼn beroepskool in die westelike dorp Kauhajoki vermoor.

Volgens ʼn artikel wat in die Journal of Scandinavian Studies in Criminology and Crime Prevention gepubliseer is, het honderde skole sedertdien skietdreigemente ontvang.

Die artikel het geestesgesondheidsprobleme as die hoofrede agter die toename in skietvoorvalle genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.