Een steeds vermis, 50 beseer in Parys-ontploffing

nagenoeg 50 mense is in die ontploffing en ineenstorting op die Rûe Saint Jacques-straat beseer. Die ontploffing is vermoedelik deur ʼn gaslekkasie veroorsaak. (Foto: Gregory Custo/AFP)

Een mens word steeds vermis nadat ʼn ontploffing Donderdag deur ʼn gebou in die Parys-middestad geruk het. Nog ses mense het kritieke beserings opgedoen en reddingswerkers sif steeds deur die puin.

Franse aanklaers sê nagenoeg 50 mense is in die ontploffing en ineenstorting op die Rûe Saint Jacques-straat beseer. Die ontploffing is vermoedelik deur ʼn gaslekkasie veroorsaak.

“Een van die twee mense na wie daar in die puin gesoek is, het inderwaarheid reeds by ʼn hospitaal vir behandeling uitgekom,” sê die kantoor van die staatsaanklaer.

“Die soektog na die tweede persoon duur voort.”

Die ontploffing het die stad Woensdagmiddag geruk.

“Dit was verskriklik. Ek het gedink dit is ʼn aardbewing. Alles het geskud,” het Violeta Garesteaw, ʼn opsigter in een van die nabygeleë geboue, gesê terwyl sy skerwe glas bymekaargevee het.

“Heelwat vensters het gebreek en ons moes plastiekbedekking opsit omdat dit reën,” sê sy.

Die skokgolf het vensters tot 400 m van die ontploffing laat versplinter.

Dit het ook ʼn groot brand en daarna die ineenstorting van die gebou veroorsaak. ʼn Private modeskool genaamd die Paris American Academy gebruik die gebou. Volgens die ma van een van die studente was die klaskamers verlate tydens die ontploffing, omdat die studente die Parys-modeweek bywoon.

“Die tol kon veel hoër gewees het,” het Parys se adjunkburgemeester, Emmanuel Gregoire, aan die Franse radiostasie FranceInfo gesê.

Omtrent 70 brandweerwaens en 270 brandbestryders het die vlamme in bedwang gebring.

Donderdag is die veiligheidskordon om die gebou verklein en joernaliste en omstanders kon die puin oorkant die Val-de-Grace-weermaghospitaal van nader beskou.

ʼn Enkele brandslang is nog gebruik om die puin mee te spuit en verskeie omliggende winkels het weer hul deure geopen.

Reuk van gas

ʼn Gaslekkasie het die skuld vir die ontploffing gekry en verskeie ooggetuies het gesê hulle het net voor die ontploffing gas geruik.

Amptenare sê hulle het egter nog nie genoeg bewyse om met sekerheid te sê wat die oorsaak van die ontploffing was nie.

“Een van my kollegas het ʼn sterk gasreuk opgemerk en is na buite om ondersoek in te stel,” sê Philippe Delorme, die hoof van Frankryk se Katolieke onderwysvereniging wie se kantoor net langs die gebou geleë is.

Hy het aan die radiostasie RMC gesê net toe hul boekhouer die noodnommer van die gasmaatskappy  wou skakel, het die ontploffing plaasgevind.

“Ons maak natuurlik staat op die slagoffers om aan ons die aanvanklike inligting vir die ondersoek en begrip oor wat gebeur het, te gee,” het Parys-aanklaer Laure Beccuau op die toneel gesê.

Die ontploffing het ook omvattende strukturele skade aan twee aangrensende geboue aangerig en inwoners moes die persele verlaat.

Daar was reeds verskeie gasverwante voorvalle in die Franse hoofstad. In Januarie 2019 het ʼn gaspyp wat vermoedelik gelek het ʼn gebou op die Rûe de Trevise verwoes in ʼn voorval wat vier lewens, ook dié van twee brandbestryders, geëis het. Die skokgolf het talle vensters uitgeblaas en tientalle families kon nog nie na hul huise terugkeer nie omdat konstruksiewerk steeds voortduur.

ʼn Groot deel van die straat is boonop steeds afgesper jare ná die ramp en hofsake oor die oorsake van die ontploffing vertraag die uitbetaling van miljoene rande in vergoeding aan slagoffers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Tredoux ·

Ah! Hulle wil groen energie instel. “Gas is bad, so let us implement…” Ek is onredbaar skepties en vind alles verdag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.