Eerste vrouepresident vir Tanzanië

Samia Suluhu Hassan tydens haar inhuldiging as president van Tanzanië. (Foto: STR / AFP)

Samia Suluhu Hassan is Vrydag as Tanzanië se eerste vrouepresident ingehuldig na die afsterwe van president John Magufuli vroeër vandeesweek.

Hassan (61) is vroeër vandag tydens ’n seremonie in Dar es Salaam ingesweer. Sy sal nou Magufuli se tweede termyn, wat tot 2025 duur, voltooi.

“Ek kan Tanzaniërs daarvan verseker dat daar niks gedurende hierdie tyd verkeerd sal loop nie. Ons sal voortgaan waar Magufuli opgehou het,” het Hassan in ’n kort toespraak gesê nadat sy die eed afgelê het.

Hassan word die enigste ander huidig dienende vrouestaatshoof in Afrika naas Sahle-Work Zewde van Ethiopië. Zewde se rol is egter hoofsaaklik seremonieel, terwyl die president van Tanzanië ook die hoof van die regering is.

John-Magufuli

John Magufuli. (Foto: Tanzaniatoday.co.tz)

Hassan was taamlik onbekend in die buiteland totdat sy Woensdagaand op staatstelevisie verskyn het om aan te kondig dat Magufuli aan ’n hartkwaal gesterf het. Die president is weke gelede vir die laaste keer gesien.

Vrae word nou gevra oor die ware oorsaak van die president se dood na gerugte dat hy in die buiteland behandeling vir Covid-19 ontvang het.

Dít volg nadat Magufuli deurgaans volgehou het dat die Covid-19-pandemie glad nie ernstig is nie en dat die entstof uiters gevaarlik is.

Tanzanië se grootste opposisieleier, Tundu Lissu, beweer Magufuli is volgens sy bronne reeds ’n week gelede weens die koronavirus dood.

Magufuli is die afgelope jaar as ’n Covid-19-skeptikus bestempel. Sy regering het langer as ses maande geen amptelike statistieke rakende infeksies gepubliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.