Engeland wil afsonderingsmaatreëls eersdaags ophef

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Die Britse premier Boris Johnson het Maandag gesê sy regering beoog om die meeste van Engeland se afsonderingsregulasies later vandeesmaand op te hef. Dit sluit in die dra van gesigmaskers en die streng handhawing van sosiale afstand vanaf 19 Julie.

Hoewel die koronavirus nog geensins in Engeland gewyk het nie, word ’n beroep nou op Britte gedoen om verantwoordelikheid vir hulself en hul geliefdes te neem.

Die beoogde verslapping van afsonderingsregulasies kom te midde van kundiges in Israel se kommer dat die Pfizer/BioNTech-entstof minder effektief is teen die hoog aansteeklike Delta-variant.

Johnson was verlede maand verplig om sy planne vir die ophef van afsonderingsregulasies op 21 Junie uit te stel weens ʼn toename in gevalle van die Delta-variant. Die variant is in dié stadium hoofsaaklik verantwoordelik vir alle Britse Covid-19-gevalle.

’n Groot aantal Britte is egter reeds teen Covid-19 ingeënt wat minder hospitaliserings en sterftes tot gevolg gehad het.

Ongeveer 86 % van volwassenes in die Verenigde Koninkryk (VK) het reeds hul eerste dosis van die entstof ontvang en 63% is al ten volle ingeënt.

“Hierdie pandemie is nog lank nie verby nie,” het Johnson wel gewaarsku. “Dit sal beslis nie teen die 19de [Julie] verby wees nie. Ons moet ons ongelukkig versoen met meer sterftes weens Covid.”

Volgens Johnson beteken die doeltreffendheid van die VK se inentingsveldtog wel dat sy regering kan voortgaan met die verslapping van afsonderingsregulasies. “Ons gaan wegbeweeg van wetlike beperkings en mense toelaat om hul eie ingeligte besluite te neem,” het die premier gesê.

Die verslapte afsonderingsregulasies is slegs op Engeland van toepassing terwyl beperkings in Skotland, Wallis en Noord-Ierland stelselmatig en stadig opgehef sal word.

Nie almal is opgewonde oor Johnson se planne nie.

Chris Whitty, aan die hoof van Engeland se mediese dienste, het gesê dat hy steeds ʼn masker binnenshuis en in die openbaar gaan dra. Die leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, het intussen die besluit as “roekeloos” bestempel.

Delta-variant

Kundiges in Israel het Maandag hul kommer uitgespreek dat die Pfizer/BioNTech-entstof minder doeltreffend is in die voorkoming van ligte infeksies te midde van die Delta-variant.

Die Israelse departement van gesondheid het Maandag gesê ontledings dui daarop dat die doeltreffendheid van die entstof tot 64% gedaal het in die tyd wat die Delta-variant deur dié land versprei het.

Volgens die departement is die entstof wel steeds 93% doeltreffend om ernstige Covid-19-siektes en hospitaliserings te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Stem daarmee. Die Inperkings beteken absoluut niks nie want jy sal nooit die virus beperk nie. Hoekom die land se ekonomie en die individu laat sink omdat mede landsburgers nie wetsgehoorsaam is nie. Pas jouself en jou naasbestaandes op, doen wat jy kan vir beskerming teen die virus. Dit is iets waarmee saamgeleef moet word.

Rayman ·

Gister was daar 24000 nuwe gevalle in Engeland en nogsteeds maak hy alles oop, hier by ons gaan ons mense mal oor 12500 nuwe gevalle, en hier is meer mense as daar by hulle “ons land val uit mekaar uit”, mense wanneer gaan jul besef NIKS OF NIEMAND kan keer wanneer jy dood gaan nie hoekom moet daar altyd iets of iemand geblameer word wanneer iemand dood gaan “dit is die ding of daai ding se skuld”

Petrus Albertus ·

Dit is die reine waarheid wat jy daar praat Rayman – NIKS OF NIEMAND kan keer wanneer jy doodgaan nie. Die hele reaksie op die siekte is ‘n aanduiding van ons tydgees; ons leef in ‘n wêreld wat nie meer die dood kan aanvaar nie en ook nie die feit dat daar net illusies van beheer in die lewe bestaan maar werklike beheer is nie in ons hand nie. Ons neem elke dag ons lewe in ons eie hand deur in ‘n motorkar te klim, te oefen, te eet, eintlik op te staan. Virginia Woolf het gesê “dit is baie gevaarlik om selfs net een dag te leef”.

piet ·

Gaan lank vat hier ons mense is te ongehoorsaam. Dan het jy nog diegene wat nie die vax eers wil neem nie. Nee wat, maak maar reg vir nog 3 jaar se maskers dra hier.

piet ·

So met ander woorde minstens 86% van hul volwassenes het ingestem om die vaksiene te neem. Nou, dis wat ek ‘n gehoorsame volk noem en nou pluk hulle die vrugte van hul gehoorsaamheid.

Rayman ·

Darm maar snaaks dat hulle nog steeds siek word die gehoorsame volk

piet ·

Sou baie erger gewees het as minder die vaksiene geneem het (meer positiewe gevalle en erger gevalle). Hulle was gehoorsaam en het die beste gedoen wat hulle kon. Nou word hulle beloon vir hulle gehoorsaamheid.

DIABLO ·

Jislaaik! Dit sal wonderlik wees as mense hul eie ingeligte besluite kan neem. Ongelukkig gebeur dit nie hier in ons lieflike RSA nie. Ek staan in Dischem, met n meneer agter my in die tou. Hy staan omtrent bo op my en nie die afstand wat GEMERK is op die vloer nie. Boonop klets dit kliphard op sy foon, met die masker onder sy ken. Een vieslike vuil kyk van my verder, toe verdwyn hy uit die ry uit. Hier gaan die vuiste swaai omdat mense onnosel is. Om nie eens te praat van hoe vining die siekte sal versprei nie!

Petrus Albertus ·

Ongelukkig word ons nie toegelaat om ons eie ingeligte besluite te neem nie want ons het ‘n babawagter staat wat glo ons moet opgepas word soos kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.