Ethiopië begin krag opwek uit Nyldam

Die Groot Ethiopiese Renaissancedam (GERD) in Ethiopië (19 Februarie 2022) (Foto: Amanuel Sileshi/AFP)

Abiy Ahmed, eerste minister van Ethiopië, het Sondag amptelik die kragstasie uit die land se megadam op die Blou-Nylrivier oopgemaak. Dit is ʼn mylpaal in die omstrede multi-miljard dollar-projek.

Die Groot Ethiopiese Renaissancedam (GERD), voorheen bekend as die Milleniumdam, is die grootste hidroëlektriese skema in Afrika en is die middelpunt van ʼn streeksdispuut sedert Ethiopië in 2011 met die projek begin het. Dit is die sewende grootste hidroëlektriese skema ter wêreld.

Ethiopië se bure, Egipte en Soedan, beskou die dam as ʼn bedreiging, weens hul afhanklikheid van die water in die Nyl. Addis Abeba beskou dit egter as noodsaaklik vir kragopwekking en ontwikkeling.

Daar was nog nie onmiddellike reaksie van Kaïro of Khartoem nie. Dié twee lande wou Ethiopië noop om ʼn ooreenkoms te onderteken oor die opvul en bedrywighede van die dam. Die drie regerings het al verskeie kere om die onderhandelingstafel gesit, maar daar was tot dusver nog nie enige deurbraak nie.

Die $4,2 miljard-projek sal uiteindelik meer as 5 000 MW energie opwek en Ethiopië se kraguitsette verdubbel.

Ethiopië het aanvanklik uitsette van sowat 6 500 MW beplan, maar later dié teiken verlaag.

“Die opgewekte elektrisiteit uit die GERD sal help om ʼn ekonomie weer te laat herleef ná ʼn dodelike oorlog, stygende brandstofkoste en die Covid-19-pandemie,” het Addisu Lashitew van die Brookings Institution in Washington gesê.

Die 145 meter hoë dam lê op die Blou-Nylrivier in die Benishangul-Gumuz-streek van die land, sowat 45 km oos van die grens met Soedan.

Egipte, wat op die Nyl staatmaak vir ongeveer 97% van sy besproeiing en drinkwater, beskou die dam as ʼn bestaansbedreiging.

Soedan hoop die projek sal jaarlikse oorstromings reguleer, maar is besorg dat sy eie damme skade kan ly sonder ʼn ooreenkoms oor die bedrywighede by die GERD.

Gesprekke wat die Afrika-Unie aan die gang wou kry, was onsuksesvol. Kaïro en Khartoem en geëis dat Addis Abeba die vul van die massiewe reservoir sal staak totdat ʼn ooreenkoms bereik kon word.

Beamptes in Ethiopië het egter aangevoer die opvul van die dam is ʼn natuurlike deel van die konstruksieproses en dit kan nie gestop word nie.

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het verlede jaar in Julie vergader om die projek te bespreek, maar Ethiopië het later die sessie as ʼn “onhulpvaardige afleiding” beskryf van die AU-proses. Die Veiligheidsraad het in September die drie lande aangemoedig om onderhandelings onder leiding van die AU te hervat.

Egipte voer aan hy het ʼn historiese reg op die Nyl wat gebaseer is op ʼn ooreenkoms in 1929 en hy het vetoreg oor konstruksieprojekte langs die rivier.

ʼn Ooreenkoms uit 1959 het Egipte se toekenning tot ongeveer 66% van die riviervloei verhoog met 22% vir Soedan. Ethiopië was egter nie deel van dié ooreenkomste nie en beskou dit dus nie as geldig nie.

Die opvul van die GERD het in 2020 begin en Ethiopië het in Julie 2021 aangekondig hy het sy teiken van 4,9 miljard kubieke meter bereik. Die reservoir se totale kapasiteit is 74 miljard kubieke meter en die teiken vir 2021 was om 13,5 miljard kubieke meter by te voeg.

Dit sal tussen vier en sewe jaar duur om die reservoir met water te vul, na gelang van hidrouliese toestande en ooreenkomste wat aangegaan word tussen die drie lande.

Ethiopië het gesê hy het dié teiken bereik en dit beteken dat daar genoeg water was om te begin om krag op te wek, alhoewel sommige kenners die bewerings in twyfel getrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Amper gedink dis hoe dit damwal lyk nadat Egipte daar ‘n draai gemaak het…

Prof JS ·

5000 MW. Indien Medupi en Kusile ooit hulle volle beplande kapasiteit bereik, sal hulle elk net minder as hierdie stroom opwek.

Kragopwekking elders in Afrika is niks om oor huistoe te skryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.