EU aanvaar kwytskelding van grondreël ná betogings

Argieffoto (Foto: Patrick Hertzog / AFP)

Die Europese Kommissie het Dinsdag die vrystelling van ’n veel betwiste reël om ʼn gedeelte van landbougrond braak te laat, amptelik verleng nadat duisende boere in die blok oor die gewraakte bepaling betoog het.

Die reël sal vanjaar gedeeltelik opgeskort bly. Dit beteken dat boere in plaas daarvan om 4% van bewerkbare grond onproduktief te hou, voortaan toegelaat sal word om dit te gebruik vir “stikstofbindende gewasse” soos die verbouing van lensies of ertjies, of “vanggewasse” wat tussen gereelde oeste verbou word.

Dit terwyl boere steeds in aanmerking bly vir subssidies van die Europese Unie (EU).

Die kommissie het aanvanklik voorgestel dat 7% van die grond vir stikstofbindende gewasse gebruik word, maar dié syfer is later tot 4% hersien.

Toe stem die kommissie verlede maand, na aanleiding van oproepe van verskeie EU-lede (waaronder Frankryk) in om ʼn nuwe, gedeeltelike, vrystelling toe te staan.

Volgens die kommissie sal die gewysigde reël “minder beperkings plaas op hoe boere die bewerkbare grond kan gebruik en die inkomsteverliese verminder terwyl dit steeds sekere omgewingsvoordele verseker”.

“Daar is ʼn paar veranderinge ná onderhandelinge met lidlande,” het Olof Gill, woordvoerder van die kommissie, Maandag aan verslaggewers gesê. “Die logika was om verdere buigsaamheid vir ons boere te bied.”

Die braakgrondreël is ingestel as deel van die blok se gemeenskaplike landboubeleid om biodiversiteit te bevorder.

Dit is een van verskeie maatreëls wat die blok laat vaar het in ʼn poging om die gemoedere van boere  te kalmeer, tesame met ʼn plan om die gebruik van plaagdoders in die landbou te verminder.

Die lys van boere se klagtes is lank, maar kom meestal daarop neer dat hulle voel hulle kan nie meer volhoubaar boer nie. Rompslomp en stygende insetkoste word gedeeltelik hiervoor blameer, met die uitbreiding van EU-regulasies om klimaatteikens te bereik ook ʼn probleem.

Die EU het egter erken dat ʼn ’n kombinasie van geopolitiek en uiterste weer beteken dat boere sukkel om die braakgrondreël na te kom, wat “in sekere gevalle ʼn beduidende korttermynuitwerking op hul inkomste kan hê”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Julle kla? Kom ons stuur vir julle ‘n paar opgekomende en tot niks boere aan. En ‘n klomp Rooi Pet land grabbers. En demanders of all and responsable vir niksers. Ongelukkig ook ‘n paar wat hulself die reg toe eien om mense te verniel en seermaak en erger. En natuurlik ‘n kassie vol kaders wat kom rule en regulate en RUIN!!!!! Hou maar sommer self die vreet kripp vol vir AL bogenoemdes…anders vat hulle self.

Karel Kobus Kruger ·

Regerings wêreldwyd verstaan maar net een taal. En dis nie die taal van mooi en beskaafd praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.