EU knip vlugmodus se vlerke

Argieffoto. (Foto: iStock)

Is jy ’n sakeman wat letterlik nie kan afskakel nie en gou net nóg ’n e-pos wil stuur of belangrike oproep wil maak, maak nie saak waar in die wêreld of in watter tydsone jy jou bevind nie? Dan is daar goeie nuus. (En natuurlik vir tieners wat nie sonder musiek- en videostroomdienste kan klaarkom nie.) Die Europese Unie (EU) het beslis dat die dae van vlugmodus aan boord van vliegtuie oor dié deel van die aardbol getel is. Volgens die EU kan lugdienste nou 5G-tegnologie aan boord van vliegtuie hier verskaf, tesame met stadiger mobiele data.

Ofskoon die besonderhede van die instelling hiervan nog nie bekend is nie, sal dit beteken dat passasiers nie meer hul fone in vliegtuigmodus hoef te plaas as die ystervoël op die aanloopbaan begin spoed optel nie, berig die BBC.

Die sperdatum vir EU-lidlande om dié 5G-frekwensiebande vir vliegtuie beskikbaar te stel, is 30 Junie 2023. Passasiers sal oproepe vir die duur van die hele vlug kan maak, asook data-gulsige toepassings soos musiek- en videostroomdienste kan gebruik. Die slegte nuus (wel, in dié stadium net vir die Europeërs) is dat jy nie sal kan sê jy het ’n belangrike oproep of Teams-vergadering misgeloop omdat jy 30 000 voet bo die aarde gesweef het nie.

Volgens Thierry Breton, EU-kommissaris, sal dié plan innoverende dienste vir mense moontlik maak en Europese maatskappye se groei vlerke gee. “Die lugruim behoort nie ’n remskoen te wees as dit by die geleenthede kom wat deur supervinnige, hoëkapasiteit-konnektiwiteit gebied word nie,” het hy gesê.

Die EU-kommissie het in 2008 begin om sekere frekwensies vir vliegtuie te reserveer om internettoegang in die lug te bied. Die verbindingspoed was egter teen ’n slakkepas omdat dit op toerusting gesteun het wat passasiers via ’n satelliet met ander aardlinge verbind. Die nuwe stelsel sal munt slaan uit 5G se baie vinniger aflaaispoed en volgens sommige tot 100 Mbps wees. Dit sal passasiers in staat stel om hul gunstelingrolprent binne slegs ’n paar minute af te laai.

Argieffoto. (Foto: iStock)

Vlugmodus is ingestel omdat veiligheidsoperateurs nie seker was hoe mobiele toestelle soos selfone vliegtuie kon beïnvloed nie. Volgens Dai Whittingham, uitvoerende hoof van die Verenigde Koninkryk se vlugveiligheidskomitee, was daar kommer dat dit met outomatiese vlugbeheerstelsels kon inmeng. “Ondervinding het egter gewys dat die risiko vir inmenging baie klein is.”

Die EU-groenlig gaan egter nie noodwendig gou in ander wêrelddele skyn nie. Daar is kommer dat 5G-frekwensies in byvoorbeeld die VSA met vlugte kan inmeng en selfs tot foutiewe hoogtemetings kan lei omdat hoër kraginstellings daar toegelaat word. “Die kans op inmenging in die EU is klein omdat ons ’n ander stel frekwensies as die VSA gebruik. Reisigers wil 5G aan boord hê en reguleerders sal daardie toegang bied. Ons sal egter stappe doen om te verseker dat wat ook al gedoen word, veilig is,” het Whittingham gesê.

Wanneer die “selfoonlugruim” vir Suid-Afrikaners oopgestel sal word, is nie bekend nie. Ons is tradisioneel baie stadig uit die vertreksaal en plaaslike lugdienste het passasiers eers in 2019 begin toelaat om hul mobiele toestelle in vlugmodus te gebruik.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het in Maart vanjaar, ná ’n voetslepery van bykans ’n dekade, sy langverwagte breëbandspektrumveiling gehou. Ses netwerkverskaffers – Rain, Vodacom, MTN, Telkom, Liquid Telcoms en Cell C – het vir frekwensiespektrum gebie. Okosa het sowat R14 miljard met dié veiling ingesamel.

Hoewel die netwerke nou oor die nodige frekwensies beskik om 5G-dienste in te stel, sal dit ’n geruime tyd duur voordat Suid-Afrika se 5G-penetrasiekoers, wat vroeër vanjaar op ’n skamele 7,5% gestaan het, noemenswaardig verbeter. 5G-toegang is tans nog grootliks tot die groot stede beperk.

Luidens ’n verslag deur die Suid-Afrikaanse konsultasiefirma Africa Analysis vroeër vanjaar, sal 5G-intekenare in Suid-Afrika na verwagting teen 2025 die 11-miljoen-kerf bereik, met ’n bevolkingsdekking van 43%. Hierteenoor word verwag dat bykans 80% van mense in Noord-Amerika en Wes-Europa teen 2027 uit 5G se blitsige spoed munt gaan slaan.

Bykomende bronne: BBC, TechCrunch, RCR Wireless, Tech Cabal, Ookla en IT Web.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ons het nie lugdienste in Suid Afrika na die ANC alles verwoes het….wel nie wat die man op straat kan bekostig nie. Lugdiens verwoes, treindiens verwoes, paddiens verwoes, busdiens verwoes. ANC – one party wrecking machine!

Gert ·

Hartseer om heeltyd te verwys na hoe ons land was terwyl ander lande die hoogtes in skied. Waar ons nou eintlik moes terug gekyk het na die ou dae as oud, en dan spog met die nuwe, het ons slegs die begeerte van wat was. Iewers gaan ons die kanker van landsvertering moet afskud en weer vorentoe beweeg. Al is dit net een klein groepie op n slag, todat al die groepies saam staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.