FB-werknemers kan permanent tuis werk

Argieffoto ter illustrasie (Foto: OLIVIER DOULIERY / AFP)

Facebook gaan vanaf volgende week sy werknemers die opsie bied om op lang termyn tuis te werk en selfs aanbied om werknemers by te staan wat daarin belangstel om na ander lande te verhuis.

Die internetreus het Woensdag aan AFP gesê enige werknemer wie se werk vanaf die huis gedoen kan word, sal vanaf Dinsdag (15 Junie) gevra word om met dié werkswyse voort te gaan.

“Ons glo hóé ons werk, is belangriker as wáár ons werk.

“Ons wil die plek wees waar mense die beste werk van hul loopbaan kan verrig terwyl ons ʼn volgehoue ervaring vir werknemers verseker ongeag waar hulle hulself bevind,” sê die sosiale netwerk.

Facebook se werknemers het reeds vroeg in die Covid-19-pandemie na tuiswerk oorgeskakel en maak sedertdien staat op die internetinstrumente wat hulle skep om nou hul werk van die huis af gedoen te kry.

Google en Microsoft het in dié stadium ʼn soortgelyke werkswyse terwyl Twitter se werknemers tans onbepaald van die huis af werk. Apple beoog dat werknemers vanaf September drie dae per week terugkeer na die kantoor, maar ontvang teenkanting van sy werknemers.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, sê hy verwag dat die skuif na tuiswerk blywend by dié sosiale netwerk sal wees en is in dié stadium juis op soek na werknemers wat hul werk vanaf die huis kan doen.

Facebook het onlangs sy kantore ná meer as ʼn jaar begin heropen. Werknemers geniet egter nie in dié stadium voordele soos gratis maaltye en pendeldienste soos voorheen nie.

Volgens Facebook sal die werkskedules van diegene wat wel na sy kantore wil terugkeer, voortaan buigsaam wees, hoewel daar van hulle verwag sal word om minstens die helfte van die tyd op die perseel te wees.

Die toonaangewende sosiale netwerk, gebaseer in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, is tans goed op dreef om die meeste van sy Amerikaanse kampusse vroeg in September met ʼn kapasiteit van 50% oop te stel. Sommige van sy kantore in Europa en Asië is reeds oop met streng Covid-19-protokol wat ingestel is.

Werknemers kan vanaf volgende week ook oor landsgrense heen vir Facebook werk. Die maatskappy steun oorplasings vanaf die VSA na Kanada, asook oorplasings vanaf Brittanje na ander dele van Europa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.