Feesviering in Zim ná Mugabe se bedanking

Zimbabwiërs vier fees in die strate van Harare nadat daar aangekondig is dat Robert Mugabe as president van Zimbabwe bedank het (21 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiërs het Dinsdagaand verheug die strate van Harare, die hoofstad van Zimbabwe, ingevaar om jubelend Robert Mugabe se bedanking ná 37 jaar as staatshoof te vier.

Jacob Mudenda, die speaker in die Zimbabwiese parlement, het vroeër bevestig dat die 93-jarige staatshoof bedank het. Mugabe se bedanking het gekom nadat hy aanvanklik nie gehoor gegee het aan Maandagmiddag se spertyd om te bedank nie. Zanu-PF het daarna ʼn mosie ingedien om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas, maar hy het bedank voordat die proses gefinaliseer kon word.

Mugabe het ʼn week lank verbete aan sy amp geklou nadat die weermag en sy voormalige politieke bondgenote Harare oorgeneem het in ʼn poging om hom as president van die Afrikaland te verwyder. Mugabe is die afgelope naweek uit Zanu-PF geskors waarna die parlementêre proses om hom te verwyder begin is.

Verskeie internasionale media het Dinsdag beeldmateriaal vertoon van Zimbabwiërs wat dansend en singend in die strate van Harare feesvier terwyl hulle landsvlae in die lug laat wapper. Motoriste het toeters geblaas en sommige het plakkate van genl. Constantine Chiwenga, die Zimbabwiese weermaghoof wat die weermagoorname van die land gelei het, in die lug gewaai. Die feestelike gesig was aanduidend van ʼn nuwe hoofstuk wat vir Zimbabwe aangebreek het.

Zimbabwiërs vier fees in die strate van Harare nadat daar aangekondig is dat Robert Mugabe as president van Zimbabwe bedank het (21 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Reuters het Dinsdagmiddag berig Mugabe se bedankingsbrief wat deur die speaker voorgelees is, het nie genoem wie sy presidensiële verpligtinge by hom sal oorneem nie. Die speaker het wel genoem dat hy aandag skenk aan regskwessies om te verseker ʼn nuwe leier is teen einde Woensdag ingestel.

AP berig ʼn beampte van die regerende party, Zanu-PF, het bevestig Emmerson Mnangagwa wat onlangs as Mugabe se adjunk afgedank is, sal binne 48 uur by Mugabe as staatshoof oorneem.

Mugabe het gedurende sy termyn as staatshoof die eens ryk Afrikaland tot ekonomiese ondergang gelei. Zimbabwe het onder Mugabe se leiding tot hiperinflasie gesink nadat inflasie met meer as ʼn miljoen persent gestyg en ekonomiese groei tot minus 18% gekrimp het.

Hy het deur die jare sy magsgreep behou deur sy teenstanders deurentyd te onderdruk, hoewel talle mense oor Afrika hom steeds bewonder en deur die dekades ondersteun het. Mugabe se vrou, Grace (52), het internasionaal kritiek uitgelok deur haar uitspattige leefstyl en luukse koopgewoontes terwyl duisende Zimbabwiërs krepeer van armoede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carel 2 ·

Bedank? Lyk meer na “constructive dismissal” ? He he he vang slim sy baas…….

Andre ·

Mugabe was net die ‘oortjies van die seekoei’!

Onsigbaar onder die water hang daar steeds die ‘vet logge lyf’ van ‘n enorme seekoei naamlik Zanu PF.

Die ‘oortjies’ was vir 37 jaar bó die water gehou deur die “gevaarlikste wilde dier’ in Afrika.

Hoewel Mugabe nou verwyder is bly die gesiglose massamoordenaars van Zanu PF steeds in beheer in Zimbabwe.

So daar is nog geen rede tot blydskap nie vir Zimbabwiërs.

Alvorens die opposisie MDC Party van Morgan Tsvangirai die regering oorneem dreig daar steeds ‘n bose, gevaarlike ‘seekoei’ wat geen respek het vir menseregte of demokrasie nie.

Spaar die feesviering tot later.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.