Foto’s: 75ste Cannes-rolprentfees sorg vir onvergeetlike oomblikke

Priscilla Presley het die akteurs van die fliek “Elvis” op die rooi tapyt vergesel. (Foto: Christophe Simon/AFP)

Die Cannes-rolprentfees se idilliese ligging en kontrasterende elemente maak dit een van die interessantste en gesogste rolprentgebeurtenisse van die jaar.

Aan die een kant is dit ʼn parade van bekendes in duur klere en juwele, en aan die ander kant dien dit as ’n vertoonvenster vir rolprente wat dikwels op armoede, ongelykheid en maatskaplike krisisse fokus.

Ná sy kansellasie in 2020 en afgeskaalde weergawe in 2021, het die fees vanjaar weer vir ’n paar onvergeetlike oomblikke in sy 75ste jaar gesorg.

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne open die fees. (Foto: Christophe Simon/AFP)

Zelenski open rolprentfees

Die voortslepende oorlog in Oekraïne is nie misgekyk tussen die prag en praal van Cannes nie en die fees is met ’n toespraak deur pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne geopen.

Zelenski, wat self ʼn voormalige akteur is, het in ʼn regstreekse video-uitsending rolprentmakers aangemoedig om diktators te satiriseer soos Charlie Chaplin destyds met Adolf Hitler gedoen het. Hy het bygevoeg dat “rolprente die mens se reg op vryheid moet uitbasuin”.

ʼn Onbekende vrou het ook onverwags haar rok op die rooi tapyt uitgetrek in protes teen die beweerde verkragtig van Oekraïniese vroue deur Russiese magte. Die betoger het protesboodskappe en die vlag van Oekraïne op haar lyf geverf.

Russiese rolprentmakers is ook vanjaar die fees belet, terwyl flieks van toonaangewende Oekraïniese rolprentvervaardigers wel vertoon is.

Donkie van sirkus tot slagpale gevolg; organe word kuns

Uit die 21 rolprente wat vanjaar om die fees se prestigeryke Goue Palm (Palme d’Or) meegeding het, het die 84-jarige Poolse regisseur Jerzy Skolimowski se EO en David Cronenberg se Crimes of the Future feesgangers se menings die meeste verdeel.

In EO volg die gehoor ʼn donkie van die sirkus tot die slagpale en in Cronenberg se fliek ondergaan mense weersinwekkende chirurgiese veranderinge vir artistieke plesier.

Hoewel talle kykers Crimes of the Future vroeg verlaat het, het dié opspraakwekkende prent, waarin akteurs soos Viggo Mortensen, Lea Seydoux en Kristen Stewart te sien is, terselfdertyd ʼn sewe minuut lange applous geniet.

Riley Keough, regisseur en kleindogter van Elvis Presley. (Foto: Loic Venance/AFP)

Priscilla Presley vergesel Elvis-akteur op rooi tapyt

Die langverwagte Elvis Presley-fliek deur die bekroonde Australiese regisseur Baz Lurhmann het ook sy Cannes-debuut gemaak en terwyl sommiges die kleurvolle en besige rolprent se lof besing, meen ‘n paar “suspicious minds” dat Lurhmann se kenmerkende eksentrieke styl nie gepas is om die koning van ruk-en-rol se lewensverhaal te vertel nie.

Die blondekop akteur Austin Butler speel die heupswaaiende kulturele ikoon terwyl Hollywood-legende Tom Hanks die rol van sy manipulerende bestuurder, Tom Parker, vertolk.

Ongeag die kritiek het die fliek steeds ʼn 12 minuut lange applous geniet, met bekendes soos Kylie Minogue en Shakira in die gehoor.

Een van sy grootste en vernaamste aanhangers wat egter baie opgewonde was, is Priscilla Presley, wat van 1967 tot 1973 met die legende getroud was.

Die 77-jarige aktrise het verlede maand in ʼn sosialemediaplasing gesê dat sy en haar dogter, Lisa Marie, die fliek se lokprent “meer as ʼn dosyn keer gekyk het” en bewoë geraak het toe hulle die rolprent uiteindelik kon kyk.

Sy het ook die fliek se akteurs op die Cannes‑rooitapyt vergesel.

Die Presleys het vanjaar egter nóg ʼn rede gehad om die geleentheid te vier. Die aktrise Riley Keough, Lisa Marie Presley se oudste dogter, het vanjaar ook die toekenning vir beste eerste rolprent vir haar regisseursdebuut in die fliek War Pony ontvang.

Plaaslike sterre skitter in Cannes

Die Suid-Afrikaanse beïnvloeder Kefilwe Mabote het die koppe in Cannes laat draai. Die 33-jarige het vandeesweek in ’n stylvolle swart aandrok van Gio Dress op die rooi tapyt geskitter. Die internasionaal bekende Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee is ook in Cannes opgemerk.

Tom Cruise en sy Top Gun-medeakteur, Jennifer Connelly. (Foto: Valery Hache/AFP)

Top Gun

Tom Cruise het vir die eerste keer in 30 jaar na Cannes teruggekeer vir die vertoning van Top Gun: Maverick.

Maroela Media het vroeër berig dat die fliek se wêreldpremière onlangs by die USS Midway-vliegdekskipmuseum in San Diego plaasgevind het, waar Cruise in egte “Maverick”-styl opgedaag het, naamlik in ʼn helikopter wat hy self beman het.

Die verbyvlug deur die Franse lugmag voor die fliek se vertoning is egter deur sommiges as swak smaak beskou omdat die fees ook hulde gebring het aan Oekraïners wat deur die oorlog geraak is.

AFP het berig dat ʼn Oekraïniese rolprentvervaardiger na dié lugvertoning in trane uitgebars het.

Ruben Östlund het die gesogte Goue Palm-toekenning gewen. (Foto: Loic Venance/AFP)

Gesogte Goue Palm vir tweede keer deur Sweedse regisseur ingepalm

’n Satiriese film oor klassekonflik was ’n verrassingswenner van die Goue Palm-toekenning by vanjaar se Cannes-rolprentfees.

Triangle of Sadness – ʼn donker komedie oor twee modelle en ʼn skoonmaker wat met ʼn groep miljardêrs op ʼn eiland gestrand word – het die Sweedse Ruben Östlund ’n plek onder ʼn uitgesoekte groep regisseurs wat  die Goue Palm twee keer gewen het, besorg.

Östlund het dié gesogte toekenning, wat deur kritici as een van die gesogste toekennings in rolprentwese beskou word,  in 2017 vir sy fliek The Square ingepalm.

Bronne: AFP, New York Times, Entertainment Weekly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.