Foto’s: Eloise eis talle lewens

Vloede in Mosambiek weens sikloon Eloise. (Foto: UNICEF/Bruno Pedro)

Meer as 21 mense is dood en honderdduisende mense geraak deur die superstorm Eloise, wat verlede week in Mosambiek begin woed het.

Die storm, wat Mosambiek verlede Saterdag met windsterktes van meer as 150 km/h getref het, het swaar reën en vloede in dié land tot gevolg gehad. Hierna het dit na dele van Zimbabwe, Botswana en Suid-Afrika beweeg.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) het minstens 21 mense weens die storm omgekom, van wie 11 in Mosambiek, drie in Zimbabwe en twee in Suid-Afrika. Meer as 270 000 mense is ook deur die storms geraak, die meeste van hulle in Mosambiek, waar 20 000 mense dakloos gelaat is en 20 500 huise beskadig is.

Vloede in Mosambiek weens sikloon Eloise. (Foto: AFP)

“Met vloede in verskeie dele is daar boonop ʼn groot kans vir die uitbreek van siektes soos cholera,” het die VN se kantoor vir koördinering van humanitêre sake Vrydag in ʼn verklaring gesê. “Derduisende hektaar landbougrond het ook oorstroom, wat oeste kan beïnvloed en ʼn uitwerking op voedselsekerheid in die gebied kan hê.”

In Suid-Afrika het die weerdiens ʼn vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat Sondag en Maandag hier uitgesak het. Paaie en verskeie ruskampe in die Krugerwildtuin het verspoel.

Talle inwoners in die noordelike dele van KwaZulu-Natal moes noodgedwonge hul huise weens vloedwater ontruim. Gebiede in KwaZulu-Natal wat veral deur die swaar reën geraak is, is in die uMkhanyakude-distrik in dele van King Cetshwayo en die Zoeloeland-distrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Hierdie sikloon “Eloise” is net so verwoestend soos die vrou “Eloise” van wie Barry Rian in 1969 gesing het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.