Groot skade ná Eloise SA tref

Oorstromings in Mpumalanga (Foto: Eskom, Twitter)

Die tropiese sikloon Eloise het die afgelope naweek verwoesting in dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng gesaai. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie is nou ontoeganklik weens reënskade.

Swaar reën en stormsterkwinde het sedert Saterdagaand in dele van Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal en Gauteng uitgesak en wydverspreide vloede veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag ’n rooi vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat Sondag en Maandag in hierdie gebiede uitgesak het.

Volgens die weerdiens sal die stormweer na verwagting Dinsdag begin opklaar.

Talle inwoners in die noordelike dele van KwaZulu-Natal moes noodgedwonge hul huise ontruim weens vloedwater. Gebiede in KwaZulu-Natal wat veral deur die swaar reën geraak is, is in die uMkhanyakude-distrik in dele van King Cetshwayo en die Zoeloeland-distrik.

Sipho Hlomuka, KwaZulu-Natalse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê ʼn gesin in eMthonjeni in die Jozini- plaaslike munisipaliteit moes Sondag hul huis ontruim nadat dit oorstroom het. Die gesin moes by familie gaan woon.

Oorstromings in KwaZulu-Natal (Foto: ANA)

Hy vertel ’n ander gesin van die Abaqulusi-gebied in die noordwestelike deel van KwaZulu-Natal het Maandag douvoordag ʼn noue ontkoming gehad nadat hul huis ineengestort het. Twee lede van dié gesin is in die proses beseer en na die hospitaal geneem. Hulle is sedertdien ontslaan.

Volgens die weerdiens het Charters Creek in KwaZulu-Natal teen Maandagoggend sowat 205 mm reën binne 24 uur ontvang. Makatini het 123 mm reën in dieselfde tydsbestek ontvang, gevolg deur Pongola met 81 mm en Riverview met 78 mm.

In Mpumalanga is die N4-snelweg tussen Elandshoek en Ngodwana gesluit nadat die pad deur die storm beskadig is. Die pad is nou heeltemal ontoeganklik vir motoriste.

Alex van Niekerk, uitvoerende hoof van die N4-tolroetekonsessie, sê ná die swaar reën wat Sondag in die Ngodwana-gebied geval het, het die water oor die N4 begin stroom. Dit het daartoe gelei dat die grond onder die padoppervlak weggespoel het, wat die padoppervlak laat sak het.

Motoriste word aangeraai om ’n alternatiewe roete deur Schoemanskloof te gebruik.

Oorstromings in Mpumalanga (Foto: Eskom, Twitter)

Die Ngodwana-gebied het van Saterdag tot Maandag sowat 160 mm reën ontvang, wat kitsvloede tot gevolg gehad het. Talle bome in die gebied is ook ontwortel.

Verder het die departement van maatskaplike ontwikkeling in Limpopo Maandag gesê hy het begin om hulp te verleen aan gemeenskappe in die Vhembe- en Mopani-distrik waar huishoudings erg deur oorstromings geraak is.

In totaal is 78 gesinne geïdentifiseer wat hoofsaaklik in die Vhembe-distrik gesetel is. Ander gebiede waar gesinne geraak word, is in die plaaslike munisipaliteite in Thulamela, Collins Chabane, Musina, Makhado en Groter Letaba.

Nkakareng Rakgoale, LUR van dié departement, sê hulle het reeds begin om kospakkies, komberse en ander basiese goedere aan die betrokke huishoudings te versprei. Maatskaplike werkers bied onder meer sielkundige ondersteuning aan die betrokke individue.

Groot skade is ook in Mosambiek aangerig ná oorstromings. Amper 7 000 mense is dakloos gelaat en 5 000 huise vernietig ná ernstige oorstromings in Beira, die hoofstad van die Sofala-provinsie in Mosambiek. Hierdie gebied is in 2019 deur twee verwoestende siklone geteister.

Nasionale noodreaksiespanne het Sondag ses sterftes en 12 ernstige beserings bevestig – die getalle sal na verwagting styg namate die omvang van die skade in die komende dae volledig beoordeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grens ·

Ag nee wat, Eloise is nie ‘n skrapie teen die skade van die ANC nie!!

Wielspore ·

Ons woon in die Ngodwana gebied en in die 20 jaar plus wat ons hier bly was dit nog die meeste reen in korste periode wat ons nog gesien val het. Die gebied is berg agtig en met die baie reen was daar verskynsels soos klein watervalle sigbaar wat mens nie gewoonlik sien. Ons het gaan rondry in die Kaapsehoop omgewing en die wilde perde so jammer gekry, opmerklik staan die perde met hulle sterte in die rigting waarvan die reen val. Gister kon mens eers werklik die impak van die Eloise sien op die omgewing soos vloed vlakke daal. Mense het van vandag af begin terugkeer werk toe en gesprekke van die dag is nie soos gewoonik oor Covid maar eerder oor Eloise en haar impak. Dit is nat maar lekker.

Vrijburger ·

Net as ‘n terloopsheid, Het die wereld goed geken as kind. Die klein watervalle was watervalle voor bosbou se tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.