[Foto’s] ‘Gyselaarsdrama was terreur’

Polisiebeamptes en nooddienste op die toneel in Melbourne, Australië waar ʼn gyselaarsdrama in ʼn woonstelblok afgespeel het (5 Junie 2017). Foto: Xinhua/Gui Qing

ʼn Dodelike gyselaarsdrama wat Maandagaand in ʼn woonstel in Melbourne, Australië, afgespeel het, word deur die plaaslike polisie as ʼn terreurdaad beskou.

Die voorval het in die Brighton-woonbuurt plaasgevind waar die polisie ná ʼn woonstelkompleks ontbied is. Daar het hulle ʼn man se liggaam in die voorportaal aangetref met die aanvaller wat ʼn prostituut vashou wat hy deur ʼn agentskap gehuur het.

Die aanvaller is later as Yacub Khayre geïdentifiseer, ʼn 29-jarige Australiër wat in Somalië gebore is. Khayre het tydens die gyselaarsdrama die prostituut gedwing om ʼn plaaslike televisienuuskanaal te bel en te sê: “Hierdie is vir Isis [Islamitiese Staat]. Hierdie is vir Al-Kaïda.” Nadat polisiebeamptes probeer het om met Khayre te onderhandel, het beamptes die gebou bestorm en Khayre doodgeskiet. Drie polisiebeamptes is tydens die voorval beseer.

Die man wat vroeër deur Khayre doodgeskiet is, was ʼn werker by die woonstelkompleks.

Graham Ashton, die plaaslike polisiekommissaris, het Dinsdag gesê die voorval word as ʼn terreuraanval hanteer. Hy het gesê die polisie vermoed egter nie dat die voorval deel van ʼn groter komplot was nie.

Intussen het Malcolm Turnbull, Australië se eerste minister, dit bevraagteken waarom ʼn misdadiger “met ʼn lang geskiedenis van geweld” op parool vrygelaat is.

Die polisie het bevestig Khayre was voorheen in die hof oor ʼn komplot in 2009 om weermagkwartiere in Sydney aan te val. Hy is egter op hierdie aanklag vrygespreek. In November verlede jaar is Khayre op parool vrygelaat nadat hy tronkstraf uitgedien het vir ʼn gewelddadige huisbraak in 2012.

Polisiebeamptes en nooddienste op die toneel in Melbourne, Australië waar ʼn gyselaarsdrama in ʼn woonstelblok afgespeel het (5 Junie 2017). Foto: Xinhua/Gui Qing

“Die terreuraanval is uitgevoer deur ʼn bekende misdadiger, wat eers onlangs op parool vrygelaat is. Dit was ʼn skokkende en lafhartige misdaad,” het Turnbull gesê. “Daar was al te veel sake van mense op parool wat gewelddadige misdade van hierdie aard pleeg. Hoe is hierdie man toegelaat om uit op parool te wees? Hy het ʼn lang rekord van geweld. Dit is bekend dat hy verbintenisse met gewelddadige ekstremisme gehad het.”

Dan Andrews, premier van die staat Victoria, het gesê Khayre het sy paroolvoorwaardes nagekom, insluitend ʼn dwelmtoets en ʼn aandklokreël.

Ashton het Dinsdag gesê die polisie is bewus van bewerings dat Isis aanlyn aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar het. “Ons is bewus daarvan, maar [Isis] is geneig om altyd op te spring en aanspreeklikheid te aanvaar elke keer wat iets gebeur,” het hy gesê. Hy het gesê die bewering sal deel vorm van die polisie se ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sherl ·

Om die draai van ons af. Daai kontinent van Afrika kweek net evil. Nou sal hy sien hy kry niks by sy alah nie, geen virgins nie, niks, net hell toe.

Jacques Venter ·

Die Slag van Armegedon sal wees tussen Israel en Ismael

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.