Foto’s: Plaaslike talent skitter op loopplanke by Paryse modeweek

Natasha Joubert in Parys. (Foto: Facebook/Miss South Africa)

Natasha Joubert, Mej. Suid-Afrika 2023, was onder drie bekende, plaaslike gesigte wat Suid-Afrika se naam hoog gehou het tydens die L’Oréal Paris se Le Défilé-modeskou wat vandeesweek as deel van die Paryse modeweek aangebied is.

Natasha het dié geleentheid as eregas bygewoon terwyl Bonang Matheba, sakevrou en radio- en TV-persoonlikheid, en Thuso Mbedu, wat vanjaar teenoor Viola Davis in The Woman King te sien was, hul lywe model op die loopplank gehou het.

Thuso is in Augustus vanjaar as L’Oréal Paris se eerste sub-Sahara-Afrika-ambassadeur aangewys.

Maroela Media het vroeër berig dat Natasha genooi is om vanjaar vir L’Oréal Paris gesig te wys op die Paryse modeweek in Frankryk nadat dié handelsmerk vanjaar ʼn amptelike borg vir die Mej. SA-kompetisie was.

Dié drie vroue was egter nie die enigste plaaslike verteenwoordigers op Parys se loopplanke nie.

House of Decorum, ʼn Suid-Afrikaanse modehandelsmerk, het gedurende die Paryse modeweek sy debuutvertoning op die internasionale modeverhoog gemaak met ʼn eksklusiewe voorsmaak van hul eerste versameling, getiteld “Afrika Borwa ya Rona”.

Die egpaar Mphahlela en Rethabile Mokgatle is die kreatiewe medewerkers agter dié handelsmerk wat Afrika-vernuf met wêreldwye modeneigings in hul ontwerpe versmelt.

Ander hoogtepunte van die week:

Pamela Anderson skitter met skoon gesig

Pamela Anderson, blondekop aktrise en 1990’s mode-ikoon, het koppe by die Paryse modeweek laat draai danksy haar besluit om haar grimeersakkie tuis te los.

Die 56-jarige het modevertonings van handelsmerke soos Vivienne Westwood en Victoria Beckham sonder ʼn onsie grimering bygewoon en lof van bekendes soos Jamie Lee Curtis ontvang.

“Die natuurlike skoonheid-revolusie het amptelik begin!” het Curtis in ʼn Instagram-plasing op 1 Oktober geskryf.

“Pamela Anderson is in die middel van die modeweek met soveel druk, en hierdie vrou het opgedaag en haar sitplek by die tafel geëis met niks op haar gesig nie. Ek is so beïndruk deur hierdie daad, moed en rebellie.”

Paris Hilton pronk in pienk

Die Amerikaanse sosiale vlinder Paris Hilton het haar pienkste voetjie tydens die Italiaanse modehuis Valentino se modevertoning voorgesit. Haar jonger suster, Nicky Hilton, het op ʼn rooi uitrusting vir dié geleentheid besluit.

Paris het later ook by die supermodel Naomi Campbell op die loopplank by die Thierry Mugler-modevertoning aangesluit.

Ontwerper van prinses Kate se trourok maak haar laaste buiging

Die modeontwerper Sarah Burton het haar laaste versameling vir die modehuis Alexander McQueen tydens die Paryse modeweek aangebied.

Burton is die afgelope 26 jaar deel van dié ikoniese Britse-handelsmerk en het in 2013 die leisels as hoof van die modehuis oorgeneem, drie jaar nadat stigter Lee McQueen sy eie lewe geneem het.

Een van haar bekendste skeppings was Catherine, die prinses van Wallis, se nou wêreldbekende trourok wat sy op haar 2011-troue met prins William gedra het.

Prinses Kate het deur die jare ʼn lojale ondersteuner gebly en dra gereeld deftige Alexander McQueen-pakkies tydens koninklike verpligtinge.

Bronne: People, The Guardian, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.