Foto’s: Wilde perde gedy in Tsjernobil

‘n Perd stap in die Tsjernobil-uitsluitingsone. (Foto: Sergei SUPINSKY / AFP)

ʼn Groot groep wilde perde gedy 35 jaar ná die ergste kernramp ter wêreld in ʼn onwaarskynlike natuurreservaat: die Tsjernobil-uitsluitingsone.

Oekraïense owerhede meen dat die onbewoonbare gebied vir 24 000 jaar nie vir mense geskik sal wees nie. Tog gedy flora en fauna oor die jare ondanks radioaktiewe besoedeling tussen verlate toringblokke, winkels en amptelike geboue met die beelde van kommunistiese ikone.

“Dit is regtig ʼn simbool van die reservaat en selfs die uitsluitingsgebied in die algemeen,” sê Denys Vyshnevsky, hoof van die wetenskaplike departement van die Tsjernobil-natuurreservaat wat vyf jaar gelede in die gebied geskep is.

Die ontploffing in die vierde reaktor by die Tsjernobil-kernkragaanleg op 26 April 1986 het dele van die Oekraïne en naburige Belo-Rusland met bestraling besmet gelaat en gelei tot die skepping van ʼn niemandsland binne ʼn radius van 30 km van die stasie.

Tientalle nedersettings en dorpe is destyds ontruim en het die gebied in ʼn reuse-reservaat verander.

ʼn Groot groep wilde perde wei in die Tsjernobil-uitsluitingsone. (Foto: Aleksndr Sirota and Aleksander SIROTA / AFP)

Die Tsjernobil-uitsluitingsone het sedert die ramp egter ʼn toevlug vir elande, wolwe en die bedreigde ras van wilde perde wat van Asië afkomstig is, genaamd Przewalski se perd, geword.

Die ras, vernoem na die Russiese wetenskaplike Nikolai Przewalski wat die ras in die Gobi-woestyn in Asië ontdek het, het teen die middel van die 20ste eeu byna uitgesterf weens oormatige jag van die diere.

Wetenskaplikes het toe dié wilde perde in gebiede van Mongolië, China en Rusland vrygelaat as deel van die bewaringspogings.

Dertig perde is as deel van ʼn ander program in 1998 in die Tsjernobil-uitsluitingsone vrygelaat.

‘n Perd stap in die Tsjernobil-uitsluitingsone. (Foto: Sergei SUPINSKY / AFP)

Hoewel die eksperiment in die Oekraïne gou gestaak is, het die perde in die sone agtergebly. Die diere het intussen tot 150 perde in dele van die uitsluitingsgebied aangeteel, met ongeveer nóg 60 wat oor die grens in Belo-Rusland gevestig is.

“Snaaks genoeg, is dit ʼn unieke geleentheid om biodiversiteit te bewaar,” sê Vyshnevsky.

Volgens Sergiy Zhyla, senior navorser van die Tsjernobil-biosfeerreservaat, kan die Oekraïense kudde in die regte omstandighede uiteindelik vermeerder tot 300 of selfs 500 perde.

Navorsers aan ʼn dieretuin in Praag wat aan die bewaringspogings deelneem, sê nou die wêreldbevolking van Przewalski se perde het tot ongeveer 2 700 aangewas.

Perde stap in die Tsjernobil-uitsluitingsone. (Foto: Sergei SUPINSKY / AFP)

Besprekings word nou gevoer of nog bedreigde spesies in die Tsjernobil-uitsluitingsone vrygelaat moet word.

“Ons sal die landskap wat eens hier was, kan herskep voordat mense die streek intensief begin ontgin het,” sê Vyshnevsky.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rudolph ·

Verwyder die mens en sy selektiefgeteelde makdiere uit ‘n gebied en die wilde diere gedy. Volgens die berig kans die gevolgtrekking maak dat mense en makdiere meer omgewingskade aanrig as radioaktiwiteit!

Tiptol ·

Ek het ‘n program gesien van honde wat agtergebly het. Daar is nou mense wat vir hul sorg. Toetse toon dat van hul nie besmet is nie.

Tiptol ·

Wens ons kon ons renosters na so plek toe stuur vir veiligheid.

Tiptol ·

Google ‘chernobyl dogs’. Die honde word nou aangeneem.

Dirk Mostert ·

Dit wys net die propaganda oor radio-aktiwiteit word oordryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.