Galápagos-skilpaaie broei uit by dieretuin

(Foto: Crocodiles of the World)

Twee reuse- Galápagos-skilpaaie het by Crocodiles of the World, ʼn dieretuin in die Verenigde Koninkryk, uitgebroei. Die dieretuin sê in ʼn verklaring dit is die eerste suksesvolle aanteling van dié bedreigde spesies by ʼn Britse dieretuin.

Die twee reuse- Galápagos-skilpaaie, die grootste lewende skilpadspesie in die wêreld, het vandeesmaand uitgebroei. Hulle het onderskeidelik 67 g en 69 g geweeg – ongeveer soveel soos ʼn kiwivrug. Bewaarders by die dieretuin monitor hul vordering noukeurig en hulle is op ʼn dieet van gedroogde grasse, blare, turksvye en ander plante.

“Ons is ongelooflik trots dat ons suksesvol dié skilpaaie kon laat broei,” sê Shaun Foggett, stigter van Crocodiles of the World. “Hulle was vroeër baie naby aan uitsterf. Hulle word steeds deur ʼn onseker toekoms in die gesig gestaar, primêr weens uitbuiting en hul eiers wat deur indringer-spesies gesteel is. Ons het almal vir dié dag gewag sedert die reuse-skilpaaie in 2018 by ons aangesluit het. Dit is ʼn betekenisvolle prestasie vir die bewaring van die spesie.”

Crocodiles of the World in Oxfordshire is die tuiste van drie reuse- Galápagos-skilpaaie, drie wyfies genaamd Zuzu, Isabella en Charlie en een mannetjie, Dirk. “Hy is die grootste Galápagos-skilpad in die Verenigde Koninkryk en weeg tans ʼn indrukwekkende 165 kg. Hierdie sagmoedige reuse is deel van ʼn Europese bewaringsprogram.”

Die skilpaaie is vier jaar gelede van Chester-dieretuin en ZSL London na Crocodiles of the World oorgeplaas en alhoewel hulle liefderyk was sedert hul aankoms, was daar tot dusver ongelukkig nog nie enige vrugbare eiers nie.

Een van die babatjies word geweeg (Foto: Crocodiles of the World)

“Dis nie maklik om met dié skilpaaie te teel nie en slegs twee ander instansies in Europa kon hulle suksesvol laat broei. Dit beteken daar is nog steeds baie wat ons moet leer en baie min data en kennis oor die aanteling en bestuur van dié skilpaaie, veral binne Europese soölogiese instansies. Ons reptielspan was uiters toegewyd tot navorsing vir die versorging en ekologie van dié ongelooflike diere,” voeg Foggett by.

Jamie Gilks, hoof van reptiele by Crocodiles of the World, meen ook dit is baie betekenisvol dat die skilpaaie kon broei. “Nie net vir my persoonlik nie, maar ook vir almal by die dieretuin – veral ná die harde werk van ons span. Om die broeikas oop te maak en ʼn gekraakte eier te sien en te voel hoe die babatjie binne-in beweeg is onbeskryflik. Dis ʼn oomblik wat vir ʼn lang tyd almal sal bybly.”

Crocodiles of the World ondersteun ook die Galápagos-bewaringstrust, wat direk noodsaaklike navorsing uitvoer om toekomstige bewaringstrategieë vir die spesie te help vorm en hul toekoms op die Galápagos-eilande te beskerm.

Die span (Foto: Crocodiles of the World)

Interessante feite oor die reuse- Galápagos-skilpaaie:

  • Die woord ‘Galápagos’ is afgelei van ʼn ou Spaanse woord vir ‘skilpaaie’
  • Hulle is ʼn noodsaaklike deel van die Galápagos-eilande, omdat hulle saad versprei en help om die landskap te vorm. Dit beteken ander spesies kan gedy.
  • Die babas het 113 en 118 dae uitgebroei ná die eiers gelê is.
  • Galápagos-skilpaaie is werweldiere wat die langste leef. Een individu genaamd Harriet het glo 175 jaar oud geword.
  • Alhoewel hul doppe baie gehard is, is dit gemaak van ʼn tipe byekorf-struktuur en dit beteken die dop is nie so dig nie. Die skilpaaie kan dus makliker rondbeweeg.
  • Hulle is herbivore en eet graag gras, blare en vrugte.
  • Volwassenes kan ʼn jaar lank sonder kos of water oorleef, omdat hul lywe liggaamsvet kan afbreek om water te vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.