Genadedood vir ma wat vyf kinders vermoor

Genevieve Lhermitte by die hof in Nivelle, België (8 Desember 2008) (Foto: Yves Herman/Pool/AFP)

ʼn Ma van België wat haar vyf kinders vermoor het in ʼn saak wat die land geskok gelaat het, is op haar eie versoek om die lewe gebring – 16 jaar ná die moorde.

Genevieve Lhermitte het op 28 Februarie 2007 haar seun en vier dogters, tussen drie en 14 jaar oud, keel afgesny met ʼn kombuismes by hul huis in Nivelles. Die pa was nie tuis tydens die voorval nie.

Sy het daarna probeer om haarself dood te maak deur haarself met ʼn mes te steek, maar sy was onsuksesvol en het uiteindelik nooddienste ontbied.

Lhermitte is in 2008 lewenslange tronkstraf opgelê voor sy in 2019 na ʼn psigiatriese hospitaal oorgeplaas is.

Die 56-jarige se prokureur, Nicolas Cohen, het aan AFP berigte in plaaslike media bevestig dat sy kliënt is Dinsdag op die sestiende herdenking van die moorde deur genadedood om die lewe gebring.

Belgiese wetgewing laat toe dat mense genadedood kies indien hulle aan “onuithoudbare” sielkundige, en nie net fisiese, lyding blootgestel is – lyding wat nie genees kan word nie.

Die persoon moet bewus wees van hul besluit en hul wense in ʼn redelike en konsekwente wyse kan uitspreek.

“Dit is die prosedure wat mev. Lhermitte gevolg het, met die verskeie mediese opinies wat ingesamel is,” het haar prokureur gesê.

Sielkundige Emilie Maroit het aan RTL-TVI-kanaal gesê waarskynlik gekies het om op 28 Februarie te sterf “as ʼn simboliese gebaar uit respek vir haar kinders”. “Dit was waarskynlik ook haar wens om te volbring wat sy begin het, want sy wou haar eie lewe beëindig het toe sy hulle vermoor het,” het Maroit bygevoeg.

Die moorde in 2007 en die gevolglike hofsaak het België geskud.

Lhermitte se prokureurs het aangevoer hul kliënt, wat gereeld ʼn psigiater gesien het, is geestelik versteurd en moet nie na ʼn tronk toe gestuur word nie.

Die jurie het haar egter skuldig bevind op aanklag van moord met voorbedagte rade en haar lewenslange tronkstraf opgelê nadat hulle teenstrydige mediese getuienis gehoor het.

Lhermitte het in 2010 ʼn siviele hofsaak aanhangig gemaak en €3 miljoen (byna R60 miljoen) van ʼn voormalige psigiater geëis oor sy versuim om op te tree en die moorde te verhoed. Sy het die saak ná 10 jaar laat vaar sonder enige sukses.

Altesaam 2 966 mense is verlede jaar in België deur genadedood om die lewe gebring – ʼn styging van 10% in vergelyking met 2021, aldus owerhede. Kanker bly die grootste rede wat aangegee word, maar beamptes sê vir byna drie uit elke vier versoeke toon die pasiënt “verskeie tipes lyding – fisies en sielkundig”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Laat sy sit sodat dit by haar dag vir dag spook. Mense moet nie die maklike “way” kry om van hul skuldgevoelens ontslae te word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.