Gewapende owerhede deursoek musikant se huise

Sean “Diddy” Combs se wonings is Maandag deursoek. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die kletsrymer Sean “Diddy” Combs se wonings in Los Angeles en Miami is Maandag deur gewapende beamptes deursoek.

Dit spruit uit ʼn saak van beweerde mensehandel wat deur die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid teen Combs (54) geopen is.

Owerhede het dié twee luukse eiendomme oorrompel, en van die videoskote wat vanuit die lug geneem is, dui daarop dat daar verskeie individue in aanhouding geneem is.

Dit is nie bevestig wat tot die ondersoek gelei het nie, maar die betrokkenheid van binnelandse veiligheid dui daarop dat dit uit ernstige aanklagtes spruit.

Die ondersoek is gelei deur agente van binnelandse sekerheidsondersoeke (HSI) in New York, waar Combs se voormalige meisie, Cassandra Ventura, verlede jaar ʼn dagvaarding teen hom ingedien het.

In dié dagvaarding beskuldig Ventura, bekend as die R&B-kunstenaar Cassie, Combs daarvan dat hy by mensehandelaktiwiteite betrokke is.

Ventura, ’n kunstenaar van Combs se platemaatskappy, beweer dat hy haar “oor ʼn dekade verkrag en fisiek mishandel” het.

Polisiemotors buite Combs se huis in Los Angeles. (Foto: David Swanson/AFP)

Dié vervreemde paartjie was van 2007 tot 2018 in ʼn verhouding.

In die hofsaak beweer Ventura dat Combs ʼn “patroon van mag” oor haar begin uitoefen het kort nadat hulle in 2005 ontmoet het. Sy was toe 19 en Combs in sy dertigs.

Sy beweer ook dat hy haar telkemale bedwelm en geslaan het. Sy sê ook hy het haar gedwing om seksuele omgang met manlike sekswerkers te hê en dat hy dit verfilm het.

Dié dagvaarding is wel afgehandel, maar word tans opgevolg deur ʼn rits nuwe dagvaardings wat deur ander beweerde slagoffers teen Combs ingedien is.

Een van dié is in Desember ingedien en behels ʼn vrou wat beweer dat sy as 17-jarige deur Combs en verskeie ander mans verkrag is.

Combs hou vol dat hy onskuldig is en dat die beweerde slagoffers ʼn “vinnige geldjie” wil maak.

Combs het sy platemaatskappy, Bad Boy, in 1993 gestig en word as ʼn groot figuur in hip-hop-musiek gereken. Hy is veral bekend vir liedjies soos “Can’t Nobody Hold Me Down”, “I’ll Be Missing You” en “Diddy Rock”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Net nie Hollywood nie, maar ook die musiekwereld is vol gemors mense…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.